NNEW Laundry maak jou wasdag HUL plesier
“Ek wil mense help om hul werklas te verminder en daarom sê ek altyd: ‘Let me take care of your dirty laundry while you take care of life’.”
VANDERBIJLPARK. – Die geur van varsgewaste wasgoed het reeds sedert Elaine van Eeden se kinderdae groot genot vir haar gegee. Vandag is dié energieke vrou die eienaar van haar eie laundromat, NNEW Laundry, en verskaf sy boonop voltydse werk aan drie mense.
Elaine is in Port Elizabeth gebore en het in Krugersdorp grootgeword. Na skool het sy in modeontwerp studeer en ‘n beroep in bemarking gekies.

“Ek het altyd buitenshuis gewerk, maar het altyd gevoel ek wil my eie besigheid besit en ander vroue bemagtig om vir hulself en hul gesinne te kan sorg,” sê dié ma van twee kinders. Haar man, Nic, met wie sy in 1989 getroud is, het in 2011 ‘n sakeonderneming in Naledi, Vaalpark, oopgemaak en Elaine het in 2013 ook hierheen verhuis. Sy het steeds daarvan gedroom om haar eie sakeonderneming te begin en het die Enterprising Women Programme (EWP) onder leiding van Johann Landsberg en Leonie Greyling by die Noordwes-Universiteit se bhive in Vanderbijlpark deurloop, om te leer hoe om alle aspekte van ‘n eie besigheid suksesvol te bedryf. EWP is spesifiek deur die NWU begin om vroulike entrepreneurs op die pad na sakesukses te plaas. Hier word vroue geleer hoe om hulself te bemagtig en ‘n sukses van hul sakeondernemings te maak.
Na voltooiing van die kursus het Elaine NNEW Laundry in 2016 in Vanderbijlpark oopgemaak. Sy het nou reeds takke – een by SE8 South East Boulevard Centre in SE8 naby NWU Vaal, en een by die SW5 Saamtrek-gebou naby Hoërskool Transvalia.
Die NNEW in haar onderneming se naam staan vir die eerste letters van hul gesin se name: Manlief Nic, dogter Nicol, Elaine en seun Wikus.
“In die afgelope paar jaar het ek reeds ‘n goeie kliëntebasis opgebou en is trots op wat ek tot dusver bereik het,” sê Elaine. Buiten die algemene publiek sluit haar kliënte onder andere ook gastehuise, hospitale, skole en sakeondernemings in.
Elaine het ‘n passie vir mense en sy strewe daarna om ‘n baie goeie diens aan haar kliënte te lewer.
“Ek wil mense help om hul werklas te verminder en daarom sê ek altyd: ‘Let me take care of your dirty laundry while you take care of life’.”
Die dienste wat op ‘n daaglikse basis by NNEW Laundry gelewer word, sluit die was, droogmaak en stryk van wasgoed in. Dit dien ook as ‘n depot vir droogskoonmakers. NNEW Laundry was enigiets van klere tot komberse, gordyne, trourokke, oorpakke en veel meer.
As ‘n spesiale, unieke diens aan kliënte kan wasgoed ook by kliënte se huise opgelaai en weer afgelaai word wanneer dit skoon is.
Nadere besonderhede oor NNEW Laundry se dienste is beskikbaar by 076 670 0494 of stuur ‘n e-pos na enquiries@nnewlaundry.co.za.



