NewsNews

Seun vind pa in plas bloed

VEREENIGING. – ’n Gru-toneel het op 12 Oktober op mnr. Chester du Plessis gewag toe hy op die verminkte liggaam van sy 64-jarige pa, mnr. Danie du Plessis in ’n plas bloed in sy huis in Buyscelia afgekom het. Danie is tussen 10 en 11 Oktober drie keer geskiet en erg met ’n onbekende voorwerp …

VEREENIGING. – ’n Gru-toneel het op 12 Oktober op mnr. Chester du Plessis gewag toe hy op die verminkte liggaam van sy 64-jarige pa, mnr. Danie du Plessis in ’n plas bloed in sy huis in Buyscelia afgekom het.
Danie is tussen 10 en 11 Oktober drie keer geskiet en erg met ’n onbekende voorwerp aangerand. Volgens Chester (34) het hy onraad vermoed toe hy sy pa die Sondag nie in die hande kon kry nie.
“Ek het hom op albei sy selfone gebel, maar daar was geen antwoord nie.
Ek het ook sy verloofde in Sasolburg gebel om te hoor of sy dalk weet waar my pa is, maar sy het die Saterdagaand 22:00 laas van hom gehoor.”
Chester het vroeg Maandagoggend om 07:50 gaan ondersoek instel. “My pa se voertuig het skuins in die oprit gestaan met die sleutel in die aansitter. “Ek het geweet iets is verkeerd, want my pa was ’n perfeksionis en het sy voertuig altyd in die motorhuis getrek,” sê hy.
Chester het om die huis geloop en op ’n tang en beitel afgekom. “Ek het vermoed iemand wou dalk inbreek. Ek het die agterdeur oopgestoot, maar die veiligheidshek was gesluit. Ek het my pa op die grond sien lê; op sy gesig met sy arms uitgestrek. Daar was ongelooflik baie bloed,” sê Chester.
Hy het om die huis na die voordeur gehardloop, waar die veiligheidshek oop was.
Hy het eers seker gemaak die aanvallers is nie meer in die huis nie. “Toe ek by my pa buk, kon ek dadelik die doodsreuk kry. Hy was reeds yskoud en styf.”
Daar was ’n koeëlwond aan die linkerkant van sy bolyf en sy gesig was vermink.
Daar was egter geen tekens van ’n inbraak nie en slegs Danie se twee selfone en skootrekenaar is uit die huis gesteel. Volgens Chester het sy pa se aanvallers duidelik nie gekom om te steel nie, maar om te moor.
Chester wil nie bespiegel oor wie sy pa se moordenaars is nie en is baie tevrede met die ondersoekspan wat aangestel is om die moordenaar/s vas te trek. Hy sê egter sy pa het die vorige week ’n onderonsie met sy tuinier gehad, nadat Danie hom van diefstal beskuldig het.
Die tuinier het daarna ’n klag van aanranding teen Danie aanhangig gemaak en Danie het op sy beurt ’n diefstalsaak teen die tuinier geopen. Albei is op borgtog vrygelaat.
“My pa was ’n man van God wat veral die laaste paar jaar ’n sagtheid in hom gekry het, nadat hy sy lewe vir die Here gegee het. Hy was ’n man met beginsels en het altyd eerste aan sy geliefdes gedink voor hy aan homself gedink het. Dit het die Here 64 jaar geneem om ’n diamant te vorm wat waardig is om hemel toe te gaan,” sê Chester.
Danie laat sy ses kinders, kleinkinders, sy verloofde en vriende agter. Sy begrafnisdiens word op 23 Oktober gehou.
* Volgens kaptein Fikile Funda, woordvoerder van die Vereeniging-polisie, is geen verdagtes nog vasgetrek nie, maar ’n moordsaak word ondersoek.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add vaalweekblad as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

 
Back to top button