Raadslede omskep straat in ‘putt-puttbaan’
“Ons het net besef dat ons iets uitsonderlik sal moet doen om die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit se aandag te vestig op die baie gevaarlike slaggate" - raadslid Yvonne Coertze
VANDERBIJLPARK. – Plaas vyf DA-raadslede, een munisipaliteit wat weier om slaggate te herstel en verskeie geborgde gholfstokke en balle van J&B Driving Range bymekaar en jy het ‘n wenresep vir ‘n agtermiddag vol pret en plesier op ‘n nuwe putt-putt baan! Dit was presies wat die DA onlangs reggekry het toe hulle Kol. Gordonstraat in SE 7 in die nuwe “putt-putt-baan” verander het. DA-raadslid Yvonne Coertze vertel: “Ons het net besef dat ons iets uitsonderlik sal moet doen om die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit se aandag te vestig op die baie gevaarlike slaggate in Kol. Gordonstraat. Elke dag is daar die vrees vir ‘n groot ongeluk en verlies aan lewens. Emfuleni hou aan om hulle verantwoordelikheid teenoor padgebruikers te ontduik.” Volgens raadslid Coertze het die reaksie van die amptenare by Emfuleni gewissel van verbaas tot geskok en die burgemeester “probeer nog tot verhaal kom” na die raadslede se onkonvensionele “gholfdag”. ”Dit lyk tog asof ons die gewenste uitwerking gaan kry, siende dat twee amptenare van die Paaie-afdeling reeds aangedui het dat hulle met inspeksie op die pad gaan begin,” sê sy. “Die DA sal aanhou om te baklei vir die regte van inwoners. Ons sal nie toelaat dat die ANC-beheerde munisipaliteit aanhou om hulle pligte en verantwoordelikhede te ontduik nie. Hulle moet eenvoudig net gaan kers opsteek my Midvaal Munisipaliteit,” sê sy.



