Projek Gatvul: Motorfietsryers gaan moue oprol en gate toestop
VANDERBIJLPARK. – AfriForum se Vanderbijlpark-tak gaan op Saterdag 12 Oktober saam met plaaslike motorfietsklubs en lede van die publiek die grootste slaggat-herstelprojek wat die dorp nóg gesien het, aanpak. Volgens Butch Blignaut, voorsitter van dié tak, is 20 ton teer reeds vir die geleentheid bestel. Hy nooi die publiek en veral motorfietsklubs van Vanderbijlpark, Vereeniging, …
VANDERBIJLPARK. – AfriForum se Vanderbijlpark-tak gaan op Saterdag 12 Oktober saam met plaaslike motorfietsklubs en lede van die publiek die grootste slaggat-herstelprojek wat die dorp nóg gesien het, aanpak.
Volgens Butch Blignaut, voorsitter van dié tak, is 20 ton teer reeds vir die geleentheid bestel. Hy nooi die publiek en veral motorfietsklubs van Vanderbijlpark, Vereeniging, Carletonville, Parys, Sasolburg, Fochville en omliggende
gebiede om by die projek betrokke te raak. “90.6 FM Stereo, ’n plaaslike radiostasie, het reeds vyf ton teer geskenk. AfriForum het reeds 15 ton teer vir die projek aangeskaf. As ons nog teer kan
kry sal dit ’n ligpunt wees. Ons wil groot gaan,” sê Blignaut. Die projek, “Projek Gatvul” is ’n woordspeling wat inwoners se gevoel oor die stand van die dorp se paaie beskryf. Volgens Anton Stander, AfriForum se hoof van plaaslike regering in Vanderbijlpark, beplan hulle ’n massa-motorfietsrit vanaf Pick n Pay in Bedworthpark op die oggend van 12 Oktober. Hy verduidelik: “Almal sal om 08:00 daar bymekaar kom. Van daar af sal hulle na AfriForum se kantoor in Rossini-boulevard 103 vertrek waar die sakke teer opgelaai en ’n inligtingsessie gehou sal word oor hoe om die teer te gebruik. “Daarna sal motorfietsklubs na verskeie punte in die dorp beweeg om slaggate reg te maak.” Volgens Stander soek hulle ten minste agt motorfietsklubs wat elk van ’n ton teer voorsien sal word om slaggate in gebiede in Vanderbijlpark reg te maak. “As daar meer klubs is sal ons meer teer kry,” sê hy. Volgens hom het twee plaaslike klubs, Fidus-Amicus-motorfietsklub en Clique-motorfietsklub van die Vrystaat reeds aangedui dat hulle aan die “pothole run” sal deelneem. AfriForum benodig ook ’n bakkie om saam met elk van die motorfietsklubs te ry om die teer te vervoer. Besems en grawe word glo ook benodig. Volgens Stander is dit baie maklik om die teer te gebruik. “Jy vee net die slaggat uit om stof en oortollige deeltjies uit te haal, gooi die teer in, stamp dit vas met ’n graaf en kan dadelik met die voertuig daaroor ry. Dit kleef ook nie aan jou bande vas nie.” Volgens Blignaut sal daar hoofsaaklik op die strate in die woongebiede gefokus word en nie op die dorp se boulevards nie. “Dit is hoofsaaklik vir die publiek. Ons wil hulle graag betrokke kry om hulle strate reg te maak,” verduidelik Blignaut. Volgens Stander wil hulle ook spesiale balkies laat maak vir motorfietsryers wat op die dag help. Hulle kan dit dan op hul baadjies werk.




