EntertainmentLifestyleLocal newsNationalNews

Herbie, die legende, leef voort in die Vaal!

In 1978, na ‘n landswye meningspelling, is Herie & Spence as die gewildste sanggroep in Suid-Afrika aangewys en het deur die jare saam met ander groot name in die musiekbedryf soos Anton Goosen, Carike Keuzenkamp, Laurika Rauch, Anneli van Rooyen en vele ander musikante gewerk.

 
VEREENIGING. – Ouer musiekliefhebbers sal tot vandag nog kan saamneurie as hulle na Herbie & Spence se gewilde liedjies uit die 1960s en ‘70s luister. Liedjies soos “Wilgerboom”, “Marina, Marina, Marina”, “Fraülein” en “Heidi”, waarvoor hulle jare gelede landwyd toptoekennings ontvang het.

Hoewel Spence reeds in 2002 aan ‘n hartaanval oorlede is, sing sy broer, Herbie, na 50 jaar steeds. Boonop is Herbie sedert 2004 ‘n inwoner van die Vaaldriehoek.

Jan Adriaan van Zyl (Herbie) en sy ouer broer Hendrik Pieter van Zyl (Spence) is uit ‘n musikale familie van veertien kinders gebore. Hul sangloopbaan het in 1969 begin toe hulle aan ‘n talentkompetisie van die destydse LM Radio deelgeneem en die Lufthansa Flying Trophy gewen het.

By dieselfde kompetisie is Rabbitt aangewys as die beste rockgroep van die jaar en The Dealians as die beste popgroep. Dié twee groepe het later internasionale roem verwerf.

Die dag van die kompetisie het die singende Van Zyl-broers met ‘n Volkswagen Pretoria toe gery en dis waar die naam “Herbie” sy oorsprong het (Herbie, die bekende Volla in die flieks). Sy ouer boet, Hendrik Pieter, het Spence geword omdat hy altyd in sy ma se spens was om ingelegte vrugte te steel.

In 1970 het hulle hul eerste Engelse platekontrak, “Flowers never bend” losgeslaan. “Toe luister Dan Hill na ons langspeler en bied ons ‘n Afrikaanse platekontrak in 1973 aan. Ons neem toe ‘Wilgerboom’ op en daarna het ons oor die jare nege albums opgeneem waarvan die hooftreffers ‘Ella’, ‘Marina, Marina, Marina’, ‘Vanaand gaan die Poppe Dans’ en ‘Fraülein’ was, asook ‘Heidi’ wat op die Springbok Top 20 verskyn het,” onthou Herbie.

In 1978, na ‘n landswye meningspelling, is Herie & Spence as die gewildste sanggroep in Suid-Afrika aangewys en het deur die jare saam met ander groot name in die musiekbedryf soos Anton Goosen, Carike Keuzenkamp, Laurika Rauch, Anneli van Rooyen en vele ander musikante gewerk.

Na Spence se dood het Herbie saam met André Bezuidenhout die album ‘Carpe Diem’ opgeneem, waarvan meeste nommers in die gospel-genre was. “André is toe oorlede en dis toe Tony Knight, alias Ampie Volschenk, my nuwe sangmaat geword het,” sê Herbie.

Sedert Herbie en Tony mekaar in 2010 ontmoet het, het hulle as sangpaar reeds ‘n hele paar Country-toekenings op die amptelike SA Country Top 10 ontvang – onder andere die Melodie-toekenning in 2015 vir ‘All I have to do is Dream’. Hulle het dié toekenning met Manie Jackson gedeel vir sy lied ‘How Great Thou Art’. In 2018 het Herbie en Tony die SA Country Top 10 Melodie-toekenning vir die komposisie ‘Big Daddy’ ontvang, wat hulle vir Lance James met sy 80ste verjaarsdag geskryf het.

Hulle is steeds deel van die jaarlikse Country Fees waar hulle saam met legendes soos Lance James, Clive Bruce, Barbara Ray, Min Shaw en Tommie Dell optree. Hulle sing ook gereeld landswyd by skole, konserte, markte en ouetehuise. Vir konsertbesprekings kan Tony Knight by 083 720 1894 geskakel word.

Herbie het oor die jare sowat 14 albums uitgereik en het onlangs saam met Tony ‘n tweede CD by Gerrie Snyman opgeneem. Die nuwe album, getiteld “Rondomtalie Kierang Draai” sal binnekort beskikbaar wees. Een van die splinternuwe liedjies op die nuwe album, “O, Moeder, die Roos van my Hart” is deur die gewilde Marius de Vos van IFM102.2 geskryf.

“Dit was ‘n groot voorreg vir ons om dit op te neem want Marius het dit spesiaal vir sy eie ma geskryf,” sê Herbie.

Die nuwe CD word binnekort amptelik bekendgestel. Luisteraars wat die geleenthede graag wil bywoon, kan Michele by 083 378 0715 skakel.

Spence is intussen oorlede en vandag sing Herbie (links) saam met Tony Night (regs), saam met wie hy binnekort ‘n nuwe CD vrystel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button