NewsNews

Genadedood vir Peeno na grusame brandwonde

VANDERBIJLPARK. – Lede van AfriForum se Vanderbijlparktak het verlede week hul eie “vuilwerk” gedoen en honderde sakke vol vullis voor die agterhek van die munisipale geboue in die dorp gaan aflaai. Dit was nadat die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit reeds twee agtereenvolgende weke geen vullis in die dorp se woonbuurte verwyder het nie. Die sakke is …

VANDERBIJLPARK. – Lede van AfriForum se Vanderbijlparktak het verlede week hul eie “vuilwerk” gedoen en honderde sakke vol vullis voor die agterhek van die munisipale geboue in die dorp gaan aflaai.
Dit was nadat die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit reeds twee agtereenvolgende weke geen vullis in die dorp se woonbuurte verwyder het nie.
Die sakke is Donderdagaand deur 35 private voertuie, insluitend motors, bakkies, sleepwaens en ‘n 10-ton trok deur AfriForumlede na die bestemming vervoer – met tientalle gewillige hande wat die aflaaiwerk kom doen het.
Ontevrede inwoners het die aand eers by die Laerskool Kollegepark bymekaargekom voordat hulle te midde van ‘n ligte reënbui in ‘n konvooi na die munisipale geboue gery het.
Daar is hulle begroet deur die verkeersafdeling, verteenwoordigers van die munisipale hof en lede van die polisie, wat aanvanklik glo gedreig om die honde-eenheid te ontbied en AfriForumlede te beboet as hulle met hul aflaaiwerk sou voortgaan. Me. Elizabeth van Niekerk, voorsitter van die AfriForumtak in Vanderbijlpark, het egter vriendelik maar ferm verduidelik dat sy en haar span nie daar is om moeilikheid te maak nie – hulle het bloot die munisipaliteit se werk “makliker” gemaak deur hul vullis na een sentrale punt te bring.
“Ons het geen munisipale wet oortree nie. Ons was uiters gedissiplineerd in ons optrede; ons het geen skade aangerig nie en die sakke netjies by een sentrale punt vir die munisipaliteit gelaat. Boonop het ons hulle petrol en diesel gespaar deur die sakke na hulle toe te bring,” sê sy.
Vaalweekblad het aanvanklik verneem dat die vullis nie verwyder is nie omdat Emfuleni glo nie die kontrakteur wat die diens namens die munisipaliteit verrig, betaal het nie. Die munisipaliteit het egter aangevoer dat al die vullisverwyderingsvragmotors gelyktydig stukkend was.
Twee munisipale vragmotors het egter Donderdagaand binne twee ure nadat AfriForum die sakke by die munisipaliteit gelaat het, opgedaag en dit verwyder. Mnr. Chris Fourie, AfriForum se provinsiale koördineerder in Gauteng-Suid, het agterna in ‘n mediaverklaring gesê AfriForum aanvaar nie die munisipaliteit se verskoning nie. Emfuleni is versoek om bewys te lewer dat die vloot vullisvragmotors wel gereeld gediens word, en indien wel, dat daar vir die dienste betaal is.
“Ons gaan nie vir ‘n onbepaalde tyd aanhou om ons vullissakke munisipaliteit toe aan te ry nie.
“Indien Emfuleni volhou om nie ons vullis te verwyder nie, sal AfriForum op ‘n beheerste manier met die aangewese munisipale amptenare in gesprek tree.
“Die uiteinde kan wees dat AfriForumlede ‘n kontrakteur betaal om dié diens te lewer, maar dat ons dan ons munisipale diensgeld vir vullisverwydering weerhou,” sê me. Van Niekerk.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button