Local newsNewsNews

Hartseer en vrae na Galoopy se dood

VEREENIGING. – Behalwe vir die groot hartseer dat haar geliefde man en anker van hul gesin vir ewig weg is, is daar ook talle onbeantwoorde vrae waarmee Clarissa van Staden (39) worstel. Daar kon tot dusver nie bepaal word presies hoe Johan van Staden (36), of Galoopy soos hy beter bekend was, verlede Donderdag (26 September) gesterf het nie. Toe hy daardie dag teen omstreeks 12:00 nie sy selfoon …

VEREENIGING. – Behalwe vir die groot hartseer dat haar geliefde man en anker van hul gesin vir ewig weg is, is daar ook talle onbeantwoorde
vrae waarmee Clarissa van Staden (39) worstel.
Daar kon tot dusver nie bepaal word presies hoe Johan van Staden (36), of Galoopy soos hy beter bekend was, verlede Donderdag (26 September)
gesterf het nie. Toe hy daardie dag teen omstreeks 12:00 nie sy selfoon geantwoord het nie, het vriende en familie dadelik na hom begin soek. Sosiale
netwerke het behoorlik gegons in ‘n poging om hom op te spoor.
Ongelukkig is hy omstreeks 15:30 met ‘n skietwond in sy agterkop in sy wit VW Amarok-dubbelkajuitbakkie in ‘n veld langs die Kareekloofpad (R557) gevind. Daar is nog vier skote in die voertuig afgevuur.
ER24 het met hul aankoms op die toneel vir Galoopy binne sy voertuig gevind. Hulle kon niks doen om sy lewe te probeer red nie en hy is op die toneel dood verklaar. Volgens die polisieverslag het ‘n vragmotorbestuurder gesien hoe Galoopy se Amarok oor die pad swenk. Sy agterwiel
het glo die vragmotor getref, waarna dit die pad verlaat en in die veld tot stilstand gekom het. Die bestuurder het toe Galoopy se lewelose liggaam in die bakkie gevind.
“Ons is steeds nie seker of hy iemand ontmoet het vir ‘n saketransaksie nie. Hy het wel ons oudste seun se krieketwedstryd in Meyerton bygewoon kort voor sy dood,” het ‘n gebroke Clarissa Maandag aan Vaalweekblad vertel.
“Hy was die wonderlikste man en pa waarvoor ‘n kind kon vra. Hy het vir ons seuns gelewe.” Die egpaar het vier seuns. Galoopy het twee uit ‘n
vorige huwelik (Johan jr. 15 en John Thomas 13) en Clarissa een (Rico 12 wat deur Galoopy aangeneem is), en hul jongste, Kyle Dehan 2
jaar en ses maande. Clarissa en Galoopy het mekaar in 2011 ontmoet toe hulle saam begin werk het. Hulle is in 2015 getroud. “Dit was liefde met die eerste oogopslag tussen hulle. Hy was altyd so trots op sy Clara en het haar met soveel respek behandel,” vertel Chantelle van Zyl, een van
die egpaar se boesemvriendinne wat Maandag daar was om Clarissa te ondersteun. Die egpaar het sowat vier maande gelede na ‘n nuwe huis getrek waar daar baie moeite gedoen is om dit so spesiaal moontlik vir die seuns in te rig. Daar is ‘n groot gedeelte afgeskort vir die twee mak bokkies en gans vir klein Kyle Dehan, en daar word tans krieketnette opgerig vir die ouer seuns. Dat Galoopy een van die Vaal se gewildste inwoners was, is ‘n gewisse
saak. Boodskappe van medelye het ingestroom en daar was Saterdagaand by die Ultimate Outlaws Raceway (waar Galoopy betrokke was), ook vir hom ‘n spesiale huldeblyk. Galoopy se begrafnisdiens word Vrydag, 4 Oktober om 11:00 vanuit die Drie Riviere Familie Gemeente in Drie Riviere-oos gehou. Hy laat Clarissa, hul vier seuns Johan, John Thomas, Rico en Kyle Dehan, asook sy ma Dot van Staden, sy suster Yolandi Maloney en broer André van Staden agter.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button