Zelda verbeter SA-rekord twee keer in een maand!
Die Pretorius-egpaar leef hul kennis van sport en sportafrigting nou uit deur kinders op te lei in robotika en programmering.

Retha Fitchat
Die Vaaldriehoek het deur die jare al verskeie top sportmanne en -vroue opgelewer, maar dis nie aldag dat hulle in pare kom nie!
Dit was die geval met Pieter en Zelda Pretorius, wat gedurende die vroeë 1990s nie net Vaaldriehoekse sportliefhebbers beïndruk het nie, maar landwyd bewondering afgedwing het met hul onderskeie prestasies.
Zelda het reeds in 1986 vir die eerste keer Springbokkleure verwerf toe sy die junior SA-rekord in die 800m daardie jaar twee keer verbeter het. Pieter was ‘n uitblinker-hamergooier wie se SA-rekord in die o/19-ouderdomsgroep gestaan het totdat die sport se gewigte later verander is.
Terwyl Pieter en Zelda aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit studeer het, het hy in 1989 haar afrigter geword – en terselfdertyd het die liefde ook geblom! Nadat hulle graad gevang het, is hulle getroud en het in 1990 na Vanderbijlpark verhuis, waar Zelda by die destydse Yskor begin werk en onder dié vaandel gehardloop het. Pieter was in daardie stadium een van Suid-Afrika se voorste hamergooiers en ook steeds Zelda se afrigter.
In Maart 1991 het Zelda die SA rekord vir vroue verbeter en die derde vrou geword wat die 800 m onder 2 minute kon kafdraf. ‘n Maand later het sy haar eie rekord in Pretoria verbeter in ‘n tyd van 1.58.85 sekondes – en terselfdertyd vir Zola Budd-Pieterse weggehardloop.
Zelda was in daardie stadium die vinnigste vrou in dié item in Suid-Afrika en is ook onder die bestes ter wêreld gereken.
“1991 was ‘n baie goeie jaar en ons was goed op dreef indien Suid-Afrika toegelaat sou word om weer internasionaal deel te neem,” onthou Zelda.
‘n Baie welkome toevoeging tot haar en haar man se huishouding het Zelda egter verhoed om internasionaal te gaan deelneem. Hul seun is gebore net ‘n paar weke voor die begin van die Olimpiese Spele in 1992 in Barcelona, waar Suid-Afrika vir die eerste keer in dekades as deelnemende land toegelaat is.
Na haar seun se geboorte het Zelda dadelik weer begin oefen, maar toe hul dogter 20 maande later haar opwagting maak, het sy besluit om haar atletiekloopbaan finaal te laat vaar. In die vroeë 2000’s het Zelda steeds ‘n paar jong atlete afgerig wat ook op die Junior SA’s uitgeblink het.
Vandag is Pieter en Zelda die eienaars van Trophy Computers & Robotics (TCR) wat in 1999 as ‘n BK geregistreer is.
“Met Pieter as my afrigter was ons destyds ‘n dinamiese span en het maklik aanpassings gemaak wanneer iets in die programme nie gewerk het nie. Dit is tot vandag toe ook ons wenresep in ons sakeonderneming. Wanneer dinge moeilik raak in die ekonomie, kan ons vinnig verander.
“Ons primêre besigheid gaan oor robotics-klasse vir kinders. Ons wil hulle geleenthede gee om te sien dat wiskunde en wetenskap nie so moeilik is nie en dat daar nou soveel geleenthede in die mark vir hulle is – en dat hulle beter vakkeuses kan maak. In hierdie opsig het ons ‘coaching’ net van atletiek af oorgeskuif na robotics. Ons het reeds heelwat individue en spanne oorsee geneem vir deelname en het reeds ‘n paar wêreldkampioene opgelewer.
“Ons huidige programme handel oor die meganiese beginsels asook die bou van robotte en die programmering daarvan,” verduidelik Zelda.
Toekomsplanne
Nuwe toevoegings wat hulle van hierdie maand (Oktober) af implementeer, sluit Coding Unplugged (amaKhodi™) in. Dit is ‘n program om Graad R’s tot Graad 2’s te leer programmeer sonder dat ‘n rekenaar nodig is.
Dit pas goed in by die regering se planne in skole vanaf volgende jaar. Nog ‘n nuutjie wat binnekort begin, is Maker Space – wetenskap eksperimente waar leerlinge die geleentheid gaan kry om hul naweke aktief te spandeer deur lekker te kom speel met “hands-on” STEM-aktiwiteite.
- Vir meer inliting kan ouers die egpaar by 082 851 8892 skakel, of sien hul advertensie elders op hierdie Facebook-blad.
Foto’s:
1 & 2. Zelda Pretorius, trotse lid van Yskor-atletiekklub in die vroeë 1990s.
3. Pieter en Zelda in 1991 toe hulle bekendgemaak het dat daar ‘n baba op pad was en sy nie beskikbaar sou wees om in 1992 aan die Olimpiese Spele in Barcelona deel te neem nie.
4. Pieter en Zelda Pretorius vandag. Hulle leef hul kennis van sport en sportafrigting nou uit deur kinders op te lei in robotika en programmering. Foto: Quantum Photography




