Gebed vir reën
Kallie du Plessis van die Vaaldriehoek skryf dié gebed oor die ernstige droogte in ons land: Hoor U ons roepstem Heer? Uit hierdie dorre aarde styg dit op na U, oor die wye oseane dra die wind ons smekinge,oor die woestyne heen vind die roep weerklank,eggo dit terug “Help ons Heer”! Die plante verdroog, …
Kallie du Plessis van die Vaaldriehoek skryf dié gebed oor die ernstige droogte in ons land:
Hoor U ons roepstem Heer? Uit hierdie dorre aarde styg dit op na U, oor die wye oseane dra die wind ons smekinge,oor die woestyne heen vind die roep weerklank,eggo dit terug “Help ons Heer”! Die plante verdroog, die diere se erbarmlike bulk en blêr weergalm oor ons land se kaal vlaktes, waar die wind nie meer die grassade roer en die bokke nie baldadig spring nie,hulle staan neerslagtig onder enkelte verdorde bome se effense koelte.
Die boere se wekroep om hulp vind helaas geen luistrende, simpatike oor nie, inteendeel kom die bloedstollende boodskap : Anvaar wat die natuur vir julle gee en werk daarmee,want voer en saad en diesel vra mos nie geld nie. Ons bid dat ons nie nog ‘n Zimbabwe word nie, waar die dier moet vlug voor die honger massas en die voëls nie meer terugkeer na hulle neste. Ons leier wil miljarde verkwis op ‘n nuwe straler met luukse slaapkamers en allerlei uitspattighede terwyl sy land letterlik opgaan in vlamme. Gaan hy ook sy mense koek aanbied ipv brood? Honger vra nie wie, waar en hoe nie, honger vra om gestil te word en ons is lankal op pad geelpap toe!
Ons honger is egter na ‘n regverdige Vader want as HY reën stuur ,val dit op ons almal, ook op die onregverdiges sodat hulle tot ander insigte kan kom,want by Hom is alles moontlik,selfs om ‘n gierige Nero op die laaste oomblik die werklikheid te laat sien.
Ons kyk nooit agtertoe nie, en nooit te ver vorentoe nie, ons kyk altyd net op na ons Heer. So baie is van die landbou afhanklik,ons ,ons kinders en kleinkinders, ons families en ons vriende, gee dat ons soos die boer in die NWK advertensie trane van dankbaarheid sal stort omdat U ons weereens in ons troostelose, ellendige bestaan verhoor het, help ons nietige sondaars, want sonder U is ons niks nie! Ons almal oor hierdie land heen ,ons mooi Suid –Afrika!


