ArkStar skep geleenthede vir ‘kids’
VEREENIGING. – Om perdry as ‘n sportsoort te beoefen, is baie kinders se droom, maar weens die koste daaraan verbonde is dit wat dit bly … ‘n droom. Die ArkStar Kidz Club in Walkerville het egter nou vir kinders uit agtergeblewe gemeenskappe nuwe geleenthede geskep. Dié niewinsgewende organisasie sorg nou dat kinders wat dit finansieel …
VEREENIGING. – Om perdry as ‘n sportsoort te beoefen, is baie kinders se droom, maar weens die koste daaraan verbonde is dit wat dit bly … ‘n droom. Die ArkStar Kidz Club in Walkerville het egter nou vir kinders uit agtergeblewe gemeenskappe nuwe geleenthede geskep. Dié niewinsgewende organisasie sorg nou dat kinders wat dit finansieel nie kan bekostig om perdry as sportsoort te beoefen of afrigting te kry nie, wel die geleentheid kry om deel van ‘n span te wees en vaardighede aan te leer. Sodoende word kinders op ‘n positiewe manier besig gehou en weggehou van “negatiewe tydverdrywe” (dwelms, geweld en seksuele aktiwiteite). “ArkStar Kidz Club is as ‘n privaat jeug perdry- en akademiese organisasie gestig wat ouderdomme van 4-25 bedien, maar fokus op die bevordering van jeug perdry deelname,” verduidelik Marica Grobler van die organisasie. Danksy ArkStar Kidz Club vergroot dit toeganklikheid tot loopbaangeleenthede en kwalifikasies in perdry. ArkStar Kidz Club samel selfs fondse in vir beurse vir loopbaangeleenthede. Fondse word ook gebruik om die kompetisies se onkoste vir ruiters te dek. Julian Grobler (12) ‘n jong ArkStar Kidz Club NWO begunstigde het ‘n lang stryd teen kanker gevoer en oorleef. “Hy het by ons aangesluit met ‘n baie lae selfbeeld. Hy was skaam, gedemotiveerd en het geen belangstelling gehad om vriende te maak nie. Danksy sy betrokkenheid met die perde het sy selfbeeld drasties verbeter en hy het uit sy dop gekruip,” vertel Marica. Julian het ook in ‘n bekwame ruiter ontluik en presteer goed in die perdry arena. Hy het die Gautengspan onlangs tydens die SANESA Newcomers-kompetisie verteenwoordig.
“Dit is net die begin van hierdie jong seun se loopbaan. Hy is die “wonder baba” gedoop nadat hy twee keer dood verklaar is gedurende sy ma se swangerskap en byna dood was met geboorte,” sê ‘n trotse Marica. Kliniese studies het bewys dat sport- en tydverdryf-programme jongmense kan help om lewenslange, gesonde patrone te vorm. Gereelde fisieke aktiwiteite kan help om lewensgevaarlike siektes te voorkom, depressie en angstigheid hok te slaan, gewig te beheer en om gesonde bene, gewrigte en spiere te bou en te behou. Studies het ook bewys dat die uitwerking van vibrasies wat deur perde veroorsaak word terwyl hulle gery word, tot die aktivering van die simpatieke senuweestelsel lei, wat die leerproses in kinders bevorder. Hierdie uitslae beteken dat perdry as sport of ontspanning kognitiewe vermoë by kinders bevorder. Dit is die breingebaseerde-vaardighede, wat indien dit bevorder word, tot verbeterde leervermoë, geheuevermoë en probleemoplossing kan lei. Befondsing word verkry deur ondersteuning van verskeie aktiwiteite en vrywilligerswerk. Die aktiwiteite sluit in breakfast outrides, skooluitstappies na The IEA Elite, promosiewerk by verskeie uitstallings en vrywilligerswerk by stalle en funksies. ‘n Jaarlikse lidmaatskapfooi word gevra om ‘n lid te word van ArkStar Kidz Club. As daar belangstellendes is wat ‘n skenking wil maak, kan die organisasie se webtuiste (www.arkstar.co.za) besoek word, of kontak die kantoor by (016) 065 0080.




