LifestyleLocal newsNewsNews

Vyfster vakansieverblyf vir brakkies

VEREENIGING. – As jy beplan het om in Desembermaand die langpad te vat maar nog nie seker is wat om met jou hondekind te maak terwyl jy weg is nie, is die nuwe hondehotel in die Vaal jou antwoord. By Baxter’s Bark and Breakfast op ’n kleinhoewe tussen Meyerton en Vereeniging word vierpotige kinders bederf, …

VEREENIGING. – As jy beplan het om in Desembermaand die langpad te vat maar nog nie seker is wat om met jou hondekind te maak terwyl jy weg is nie, is die nuwe hondehotel in die Vaal jou antwoord. By Baxter’s Bark and Breakfast op ’n kleinhoewe tussen Meyerton en Vereeniging word vierpotige kinders bederf, gepamperlang en letterlik soos konings en koninginne behandel terwyl hul eienaars vakansie hou. Volgens die eienaar, Deoné Longstaff, is die hotel vir nie-aggressiewe, klein tot mediumgrootte ras honde wat gewoond is daaraan om deel te wees van die gesin en toegelaat word om op meubels te sit – die soort honde wat binneshuis saam met ma en pa op die bed slaap. By dié hondehotel kry elke hondekind sy/ haar eie stylvol gemeubileerde kothuis, kompleet met mat en skilderye en ’n tuintjie waar woefels bedags kan speel. Honde van dieselfde gesin kan huisies deel, maar vir elke bykomende hond is daar ’n ekstra fooi aan verbonde. Daar is skadubome op die perseel en die erwe wat nie genoeg skaduwee kry nie word van ’n skadusambreel voorsien.
Elke kothuis word van speelgoed voorsien waarmee woefels homself/haarself kan speel om die tyd te verdryf. Kamers word twee keer per dag skoongemaak terwyl waterbakke van vlekvrye staal drie keer ’n dag nagegaan en skoongemaak en opgevul word indien nodig. Daar is twee maaltye per dag – volgens Longstaff word daar slegs Royal Canin en Hills produkte bedien – sowel as ’n peuselhappie teen middagete. Asof dit nie goed genoeg is nie is daar selfs ’n spyskaart van gekookte maaltye wat spesiaal op versoek (en teen ’n ekstra fooitjie) vir jou hondekind voorberei kan word. Daar sal selfs in die somermaande ysblokkies in die waterbakke gegooi word om seker te maak dit bly lekker koud. In wintermaande sal verwarmers sorg dat niemand koud kry nie. Daar is altesaam 14 eenhede op die perseel, waarvan 12 vir honde gemaak is en twee van die eenhede vir katte. Die kothuisies vir katte is heeltemal omhein om seker te maak dat kattekind nie kan ontsnap nie. Hotelgaste geniet individuele aandag en
word twee keer per dag met ’n speel- en streelsessie bederf. Diere word selfs gebad en gesny op die dag wat hulle eienaars hulle kom afhaal en daar is volgens Longstaff ’n veearts wat 24 uur per dag (sewe dae van die week) beskikbaar is om diere by te staan in ’n noodgeval. Longstaff vertel dat sy van kleins af ’n hondeliefhebber is. Vandag besit sy self ses honde en 75 katte wat saam met hulle op die kleinhoewe van 3 000 vierkante meter bly. Die hotel is vernoem naam Baxter, ’n miniatuur Schnauzer wat die Longstaffs in 2001 aangeneem het maar intussen oorlede is. *Besoek Baxter’s Bark and Breakfast se webwerf by baxters.co.za of hul Facebook blad om meer uit te vind of skakel Deoné Longstaff by 061 205 8170 vir meer inligting.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add vaalweekblad as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

 
Back to top button