Local newsNewsSportSport

Goeie gene in Valie se bene

VANDERBIJLPARK. – Wat Natalie Long (17) as ‘n verfrissende buiterit op haar bergfiets beskou, sal meeste sterflinge in koue sweet laat uitslaan. Die littekens op dié brunet se gespierde bene is ’n stille getuienis van die nagevolge as iets op ’n uitdagende roete skeefloop. Selfs ‘n boom het al tweede beste daarvan afgekom nadat sy met haar ysterperd daarteen vasgejaag …

VANDERBIJLPARK. – Wat Natalie Long (17) as ‘n verfrissende buiterit op haar bergfiets beskou, sal meeste sterflinge in koue sweet laat uitslaan.
Die littekens op dié brunet se gespierde bene is ’n stille getuienis van die nagevolge as iets op ’n uitdagende roete skeefloop.
Selfs ‘n boom het al tweede beste daarvan afgekom nadat sy met haar ysterperd daarteen vasgejaag het.
Dié leerling aan die Hoërskool Transvalia in Vanderbijlpark is beslis nie net ‘n mooi gesiggie nie. Wanneer sy op ‘n pad- of bergfiets klim moet jy besef
daai speke gaan sing om ‘n oorwinning te bring.
Sy het vroeër vanjaar aan die Spur MTB-wedren deelgeneem en puik presteer. Die reeks het uit vier wedrenne bestaan waarvan sy twee gewen het en
twee tweede plekke behaal het. Sy het ook die vinnigste rondte van die dag by vierde wedren aangeteken.
Sy is ook vir die vierde opeenvolgende jaar as die reeks se Gautengwenner gekroon en het ook elke jaar die provinsiale span gehaal.
Sy het by die Gauteng XCO-kampioenskap tweede oor die wenstreep gejaag en by die SA XCO-kampioenskap sesde geëindig.
Sy is vanjaar ook as Suid-Gauteng se kaptein aangewys, nadat sy reeds vir twee jaar haar skool se kaptein is. Sy het vroeër vanjaar by die SA- Padkampioenskap in Durban vierde in die junior- en jeug-afdeling geëindig en ook die East Rand Classic in haar afdeling gewen.

“Ek geniet bergfietsry meer, want dit is meer opwindend. Jy maak een fout en dan het jy moeilikheid. Ek word soms bang, maar die adrenalien is lekker. Die spiere wat mens inspan met bergfietsry is anders as padfietsry, maar dit komplementeer mekaar,” sê sy.
Sy is tans ‘n lid van die Vaal Triangle Cycling Club (VTCC) en daar word vir haar ‘n blink toekoms voorspel. Maar dit is glad nie ‘n verrassing nie,
want sport is in haar bloed. Haar ma Nina (45) was ‘n bekende mededinger in plaaslike en nasionale fiksheids- en liggaamsboukringe. Sy is ook ‘n
bedrewe fietsryer. “My doelwit is om aanstaande jaar die Suid-Afrikaanse span te haal,” sê Natalie met ‘n breë glimlag.  Maar om te presteer, kom teen prys.
Dit verg baie ure op die fiets, gimnasiumwerk en ‘n streng dieet. “Ek eet agt keer per dag. Daar is nie regtig ‘n “cheat” dag nie, maar ek “cheat” soms,” sê sy met ‘n stoute glimlag. Een van Natalie se afrigters, Benoit Capostagno van Science to sport maak van ‘n toepassing (app) gebruik om haar oefenprogram en vordering te monitor en aan te pas.
Haar ander afrigter is Massimo Gugleilmi, ‘n voormalige beroepsjaer en stigter van die VTCC. “Ek geniet dit om saam met Massimo in die gym te oefen. Hy help en leer my ongelooflik baie,” sê sy.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button