Groot sukses vir Klein-egpaar
VANDERBIJLPARK. – ‘n Plaaslike egpaar, Peter en Ronél Klein, wat die afgelope jare reeds naam gemaak het op die gebied van liggaamsbou, het die afgelope naweek albei in die top tien van hul onderskeie afdelings in die World Fitness Federation (WFF) se wêreldkampioenskappe geëindig. Deelnemers van 21 lande het aan die spogbyeenkoms in Pretoria deelgeneem. …
VANDERBIJLPARK. – ‘n Plaaslike egpaar, Peter en Ronél Klein, wat die afgelope jare reeds naam gemaak het op die gebied van liggaamsbou, het die afgelope naweek albei in die top tien van hul onderskeie afdelings in die World Fitness Federation (WFF) se wêreldkampioenskappe geëindig.
Deelnemers van 21 lande het aan die spogbyeenkoms in Pretoria deelgeneem. Wat die egpaar se prestasies veral besonders maak, is dat hulle deelgeneem het in afdelings jonger as hul werklike ouderdom van onderskeideik 55 en 48 jaar.
Peter het Suid-Afrika verlede jaar by die WFF Worlds in Australië verteenwoordig en het in Junie vanjaar ook aan die WFF Universe in Frankryk deelgeneem.
Hulle was vanjaar in September die wenners van die paartjies-afdeling by die International Bodybuilding and Fitness Federation (IBFF) se SA Kampioenskappe en in hul individuele afdelings het Peter tweede in die meestersafdeling (o/50 jaar) en Ronel ook tweede in die dames o/35-afdeling geëindig.
Die Klein-egpaar se pragtige figure kom beslis nie sonder opoffering en baie harde werk nie.
Hulle oefen soggens vanaf 05:00 saam by Virgin Active in Vanderbijlpark – een en ‘n half uur per dag, ses dae per week.
Dit is ‘n lewenswyse sedert hulle 28 jaar gelede getroud is.
Ronél, ’n eiendomsagent by Pick your Property, het in 2009 aan kompetisies begin deelneem en Peter, ‘n analis by ArcelorMittal, in 2011.
Die egpaar sê hul kinders, Carla (graad 9) en Walten (graad 4) hou hulle jonk! Carla is verlede jaar aangewys as wenner van Figures SA se “Fashion Model of the year 2014”. Walten is die gesin se “Computer games expert” en hy swem graag.
Die Kleins sê gesonde eetgewoontes is ‘n normale lewenswyse vir die hele gesin.
Dit sluit vars groente soos broccoli, boontjies, spinasie, hoender, rooivleis, wildsvleis, vis en bruin Basmati-rys in. Ronél glo dat tuisgemaakte kos beter as wegneem-etes is, hoewel die gesin hulself soms met ‘n lekker pizza bederf.






