NewsNews

Krion-appél uiteindelik op die hofrol

VANDERBIJLPARK. – Die direkteure van die gelikwideerde Krion Financial Services se appél teen hul skuldigbevinding en vonnisoplegging, word op 18 November in die appélhof in Bloemfontein aangehoor. Dit was een van die grootste ponsi-skemas ooit, met ‘n omset van R1,5 biljoen. Die meesterbrein agter die skema, mev. Marietjie Prinsloo (65) en haar direkteure is na …

VANDERBIJLPARK. – Die direkteure van die gelikwideerde Krion Financial Services se appél teen hul skuldigbevinding en vonnisoplegging, word op 18 November in die appélhof in Bloemfontein aangehoor. Dit was een van die grootste ponsi-skemas ooit, met ‘n omset van R1,5 biljoen.
Die meesterbrein agter die skema, mev. Marietjie Prinsloo (65) en haar direkteure is na ‘n hofstryd wat agt jaar geduur het, op 14 Oktober 2010 tronk toe gestuur.
Die saak het egter ‘n wending geneem toe hulle almal, met die uitsondering van een van die direkteure, mnr. Heinrich Engelbrecht, aangedui het dat hulle teen regter Cynthia Pretorius se uitspraak gaan appélleer.
Die saak is destyds na die appélhof in Bloemfontein verwys en ‘n groep regters is aangewys om die 8 000 bladsye se getuienis en die 404 000 bladsye se dokumentasie waarop beslag gelê is, deur te werk. Vyf jaar het intussen verloop.
Mev. Prinsloo en haar man, mnr. Burt Prinsloo, haar seun Willem Pelser, skoonseun Gerrit Lemstra, dogter Yolanda Lemstra en haar susterskind, Izabel Engelbrecht en dié se man Heinrich, was almal direkteure van dié piramideskema.
Hulle is in 2002 in hegtenis geneem en na ‘n hofstryd van agt jaar is hulle in Oktober 2010 gevonnis. Hulle het skuld ontken op 218 683 aanklagte wat onder meer geldwassery, belastingbedrog, die oortreding van die Bankwet en die Maatskappye Wet, bedrog en diefstal insluit.
Met hul inhegtenisname en nadat al hul besittings op openbare veiling verkoop is, was hul luukse leefstyl ook op ‘n einde. Dit was egter ook die begin van die ineenstorting van die ekonomie in die Vaaldriehoek, nadat duisende beleggers hul welverdiende geld en pensioene verloor het.
Mev. Prinsloo en haar beleggers se bedrog het aan die lig gekom nadat beleggers nie meer hul maandelikse rente ontvang het nie.
Skaars ‘n maand hierna het alles in duie gestort toe die ouditeursfirma, PricewaterhouseCoopers aangekondig het dat hulle Krion Financial Services gaan likwideer. Die maatskappy is op 3 Julie 2002 in die hooggeregshof in Pretoria gelikwideer. Daarna het die swaar jare gevolg – jare van verwyt, armoede, swaarkry en baie drama.In die voorvonnisverslae wat destyds deur ‘n kliniese sielkundige ter versagting oor die Krion-7 voorgelê is en wat Vaalweekblad onder oë gehad het, het dit geblyk dat die beskuldigdes almal platsak, depressief, onversorgd en byna haweloos is.
Die meeste beleggers het alles verloor en moes boonop die rente wat hulle op hul beleggings verdien het, terugbetaal. Niemand weet egter wanneer die swaar deure van die gevangenis agter mev. Prinsloo en haar medebeskuldigdes uiteindelik gaan toeskuif nie, ás dit gaan gebeur. Intussen het hulle heel moontlik reeds weer hul voete gevind en leef dalk weer in weelde….

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button