Vier gewapende mans het by die winkel ingestorm en die personeel en kliënte met vuurwapens aangehou en gedreig. Nog vier mans het buite die deure gestaan.
Na die rooftog het hulle met geld en selfone in ‘n silwer Toyota Corolla en wit Honda gevlug. Geen skote is afgevuur nie en gelukkig is niemand tydens die rooftog beseer nie.
“Almal was baie geskok. Ek het eers vyf minute nadat alles gebeur het, voor die winkel gestaan en in trane uitgebars,” vertel Anke van der Schyff van Vanderbijlpark.
Sy was die betrokke Dinsdag omstreeks 13:20 in die winkel en was die persoon wat daarin geslaag het om te ontsnap en hulp te ontbied.
“Ek was voor in die ry en het gewag om gehelp te word. Ek het gesien hoe ‘n man agter die een kassier gaan staan. Dit het my dadelik opgeval, maar ek het nie dadelik geregistreer nie.”
Die volgende oomblik het Anke gesien hoe die man die pistool oorhaal. Daar het ‘n patroon op die vloer geval en sy het dadelik besef dit is ‘n rooftog. “Ek het besef ek moet daar wegkom. Die rowers was kalm. Toe die een voor my wegkyk, het ek my kans gevat. Ek het links beweeg en toe so vinnig as wat ek kon, na die deur toe gestap. Ek was bang hulle skiet my as ek hardloop,” vertel Anke.
Buite het sy wel gehardloop – reguit na Checkers se sekuriteitswag. Die wag het dadelik na Pep Stores toe gehardloop. Anke is ook lid van die gemeenskapsreaksiegroep, Public Eye Vaal, en het dadelik ‘n voice note op die groep gestuur. Binne minute het Rescom opgedaag, asook lede van die polisie wat die boodskap ontvang het.
Die rowers het egter gevlug voor hulle opgedaag het. Die polisie doen ‘n beroep op die gemeenskap om inligting oor die rooftog en die voertuie wat betrokke was, aan hulle te verskaf.
“Ek gaan hierdie week maar vir berading. Dit maak mens maar bang en kwaad om deur so iets te gaan,” sê Anke.
* Public Eye Vaal is ‘n groep waarop enige lid van die gemeenskap misdaadverwante probleme kan rapporteer. Hulle het ‘n kontrolekamer wat 24 uur per dag beman word.
Enige persoon wat op die groep wil wees is welkom om die kontrolekamer by (016) 100 6045 te kontak of hul webwerf, www.publiceyevaal.co.za te besoek.



