Local newsNewsNews

Dubbele viering na 60 geseënde jare

MEYERTON. - “As jy lank en gelukkig getroud wil bly, is daar drie dinge wat jy moet weet: Wanneer om te praat, wanneer om stil te bly en wanneer om weg te stap... en 30 minute later terug te kom as albei partye afgekoel het.” Só sê mnr. Frank Lieuwes (85) van Meyerton, wat onlangs saam met sy vrou, Janie, hul 60ste huweliksherdenking gevier het.

Janie sê met ‘n vonkel in die oog dat sy nog nooit aan skei gedink het nie, maar aan moord, baie! “Moet nooit kwaad gaan slaap nie, moenie vandag se probleme eers môre wil oplos nie, en beoefen baie geduld met mekaar,” sê Janie op ‘n ernstiger noot. Dit is duidelik dat die liefde na 60 jaar saam steeds welig in die blom staan vir dié egpaar.
Frank is op 15 Oktober 1934 as Francois Xavier Lieuwes in Nederland gebore en het in 1954 na Suid-Afrika gekom. Hy en Janie (gebore Jan
Lodewyk de Winnaar) is op 3 Oktober 1959 in die landdroskantoor op Dundee in KwaZulu-Natal getroud.
Frank het aanvanklik op die Spoorweë gewerk en was daarna vir ‘n rukkie op ‘n plaas in diens voordat hy op die myne begin werk het. Hy het in die middel 1990’s afgetree. Die egpaar het die grootste deel van hul lewe in KwaZulu-Natal deurgebring, maar in 2013 na Meyerton verhuis om by hulle oudste dogter (Esta Maree) in hul eie tuinwoonstel te kom woon. Die egpaar het ses kinders van wie almal getroud is, 16 kleinkinders en 19  agterkleinkinders.
Janie was ‘n kranige rolbalspeler maar weens gesondheidsprobleme moes sy dié tydverdryf laat vaar. Vandag hou sy haar graag besig met koekies bak, blokraaisels invul en tuinmaak. Lees is Frank se geliefkoosde stokperdjie en hy verslind graag enige Wilbur Smith- of Deon Meyerboek. Die dubbele viering van hul 60ste huweliksherdenking en Frank se 85ste verjaardag is verlede maand deur die hele familie gevier, insluitend sy broer en skoonsuster wat spesiaal vir die geleentheid uit Nederland hierheen gereis het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button