Solidariteit het vandag (11 November 2019) aangekondig dat hy ’n skrywe aan die regering en aan ArcelorMittal Suid-Afrika (Amsa) gaan rig nadat hy sy Navorsingsinstituut opdrag gegee het om ’n omvattende studie oor die impak van die sluiting van Amsa se staalaanleg in Saldanha te doen.
Dit volg nadat Amsa vandag bekendgemaak het dat 900 mense teen die eerste kwartaal van 2020 afgelê sal word wanneer Amsa sy staalaanleg in Saldanha in die Wes-Kaap sluit.
“Solidariteit is geskok oor die bekendmaking. Ons is bewus daarvan dat Amsa groot uitdagings in Saldanha ervaar met hoë insetkoste, ’n kwynende uitvoermark en die regering se ekonomiese beleid, maar so ’n drastiese stap wek groot kommer,” sê Willie Venter, Solidariteit se adjunkhoofsekretaris vir die Metaal- en Ingenieurswesebedryf.
Amsa se Saldanha-aanleg kan weens duurder grondstowwe, gereguleerde pryse soos kragtariewe en ’n afname in aanvraag nie meer volhoubaar aan uitvoermarkte deelneem nie. “Die nasionale regering moet eenvoudig sy ekonomiese beleid meer dringend hersien om die toenemende werksverliese te stop,” sê Venter.
Venter voer verder aan dat die werklike impak op die Saldanha-gemeenskap en die Wes-Kaap enorm gaan wees met nóg duisende inwoners wat negatief geraak gaan word deur die sluiting. Die sluiting kan katastrofiese gevolge vir die plaaslike gemeenskap inhou in die lig daarvan dat Amsa se Saldanha-aanleg die grootste werkgewer in die omgewing is.
Solidariteit sê die vakbond is ook bekommerd dat die sluiting van Amsa se Saldanha-aanleg slegs die eerste stap in sy voetspoor-projek (footprint exercise) is en dat daar ook onsekerheid oor die toekoms van die aanleg by Newcastle heers.
Solidariteit het sy lede by Amsa verseker dat hy alles in sy vermoë sal doen om hul belange gedurende die prosesse wat gaan volg, te beskerm.
- Dit is in hierdie stadium nog onbekend of – en hoe – Amsa se beplande landwye afskaling die Vaaldriehoek-werke gaan raak.



