Sanger ‘Appel’ vier sy herkoms met nuwe album en enkelsnit
Dié sanger is nie net verantwoordelik vir die lirieke van ’n paar van die grootste treffers in Afrikaanse musiekgeskiedenis nie, maar is ook deesdae ’n gewilde gesig op groot verhoë regoor die land.

Appel (Christoph Kotzé) het oor die afgelope elf jaar vir homself ’n stewige plek in die Afrikaanse vermaakbedryf gevestig as liedjieskrywer, musikant en sanger. Hy is nie net verantwoordelik vir die lirieke van ’n paar van die grootste treffers in die Afrikaanse musiekgeskiedenis nie, maar is ook deesdae ’n gewilde gesig op groot verhoë regoor die land.
Nóú is hy terug in die kollig met ’n splinternuwe album en enkelsnit, wat aanhangers gaan herinner hoekom hulle so mal is oor sy werk. NONNA, wat hy saam met Johan Vorster geskryf het, is die eerste vrystelling vanaf sy derde ateljee-album, Patriot, wat binnekort op die rak is. “Die liedjie gaan oor ’n jong meisie wat verlief is op ’n boerseun, die plaas en Afrika,” vertel die musikant. “Hy gaan moet vrede maak met die feit dat hy haar hart moet deel en is bereid om dit te doen. Daarom wag hy geduldig totdat sy terugkom plaas toe.”
Volgens die sanger was dit moeilik om te kies watter snit om eerste met luisteraars te deel, omdat dit die sterkste album is waaraan hy nóg as liedjieskrywer en kunstenaar gewerk het. “NONNA beeld vir my avontuurlus en liefde vir ons land uit. Ek weet die publiek gaan sommer baie daarvan hou, want hierdie produksiestyl is nog nooit plaaslik gedoen nie,” sê hy.
Patriot is die perfekte kombinasie van prettige lekkerluisterliedjies en betekenisvolle hartsmusiek. Dertien oorspronlike snitte, wat sorgvuldig uitgesoek is om die Afrikaner kultuur vas te vang, neem die luisteraar op reis deur ’n wye spektrum van emosies – wat wissel tussen tong-in-die-kies-humor (Tequila & Gin, Brandewyn en Coke Cola, Boeredans, 1, 2, 3) en knop-in-die-keel-boodskappe van hoop en samesyn (So Bly Jy Glo My Vriend, Jou Land, Bloed wat roep).
Die Gelofte, die wegtreffer wat hy saam met Chris Chameleon, Adam Tas, Juan Boucher en Ghapi opgeneem het, maak ook deel uit van die snittelys en is al deur meer as ’n miljoen mense op YouTube gekyk.
Appel se nuutste vrystelling volg in die suksesvolle voetspore van sy vorige CD, Boer Loop Deur My Are, wat baie goed ontvang is en verskeie gunstelinge opgelewer het, waaronder die titelsnit wat meer as twee miljoen trefslae op YouTube gehad en bo-aan verskeie treffersparades gekuier het. “Dit beteken vir my onmenslik baie en lê my na aan die hart. Ek is self van die platteland af en dis iets wat in jou geplant word. Maak nie saak of ons alles verloor nie, Boer sal altyd deur ons are klop,” verduidelik hy.
Sy debuutalbum, Lei My Na Die Water, het in 2017 die rakke getref en is baie goed ontvang. Die titelsnit het groot opslae gemaak en het vir weke die nommer een posisie op radiostasies regoor die land ingeneem. “Ek het inspirasie gekry vir die lied toe ek vir drie maande in die hospitaal gelê het en my vrou oggend in en aand uit my bygestaan het. Sy het letterlik my sielkundige wonde gebalsem. Ek het daar die krag van ware liefde begryp en hoe ons vir mekaar baie meer kan beteken as enige aardse dinge,” deel hy. Die album is ook aangevul met ’n trilogie van musiekvideo’s wat die stryd wat hy teen die dood oorwin het, simboliseer.
Appel is al vandat hy kan onthou versot op musiek en meen dat sy ouers se passie hiervoor ’n groot invloed op hom gehad het. Sedertdien hou homself nog altyd hiermee besig en voel hy bevoorreg om dit te doen waarvoor hy lief is.
Hy glo dat as jy nie ’n liedjie kan voel nie, dit nie vir jou bedoel is nie. As een van Suid-Afrika se gewildste kontemporêre liedjieskrywers weet hy beslis waarvan hy praat, want sy skeppings palm al vir die afgelope dekade al wat ’n musiekhart en -toekenning is in. Hierdie talentvolle musikant is nie net die meesterbrein agter die treffers van die land se grootste kunstenaars soos Theuns Jordaan, Karlien van Jaarsveld, EDEN (Superhero), Laurika Rauch, Bok van Blerk (Lemoene), Lianie May en Dewald Wasserfall nie, maar was ook verantwoordelik vir die titelsnit van die Afrikaanse fliek, Somer Son. Hy is ook gereeld te sien by musiekfeeste soos Aardklop, Innibos en die KKNK en het al die verhoog met verskeie groot name in die bedryf gedeel.
Patriot is ’n versameling kontemporêre treffers waarop jy lekker kan dans, lag en huil, en wat jou sal laat trots voel om Afrikaans te wees. Net soos NONNA, is elke liedjie sorgvuldig aanmekaar gesit om ’n indrukwekkende eindresultaat te skep waarby almal sal aanklank vind. Sy nuutste projek is eg aan Appel se styl en beloof om sommer baie diep in die harte van musiekliefhebbers in te kruip.
LIEDJIES OP DIE ALBUM
- Nonna
- So Bly Jy Glo My Vriend
- Patriot
- Tequila & Gin
- F250
- Brandewyn en Coke Cola
- Somerson
- Jou Land
- Bloed wat roep
- Kalahari
- Die Gelofte
- Boeredans
- 1, 2, 3 (Dis ’n lekker dop die)
VOLG HOM OP SOSIALE MEDIA
- Twitter – @Appelmusiek
- Facebook – https://www.facebook.com/appel.musiek
- Instagram: @appelmusiek
KONSERT BESPREKINGS



