NewsNews

Wêreldbeker-vreugde eindig in misdaad- hel

VEREENIGING. - Die vreugde van die Springbokke se Wêreldbeker- glorie was van korte duur vir ’n jong Springbok-ondersteuner wat Saterdagaand terwyl die vreugdevure nog hoog gebrand het, tydens ’n mislukte kapingspoging in die middestad beseer is. Christo Botha (25), ’n verkoopsverteenwoordiger van die Vaaldriehoek, moes steke kry nadat sy kop oopgekloof is toe ’n aanvaller hom deur sy motorvenster met ’n voorwerp oor die kop geslaan het.

Volgens Christo was hy op pad huis toe nadat hy die middag rugby by sy neef se huis in Vanderbijlpark gaan kyk het. Dit was reeds donker met sy aankoms in Vereeniging. Christo vertel dat hy by ’n rooi verkeerslig by die kruising van Barrageweg (R42) en Lewislaan, op die randjie van Vereeniging se middestad, gestop het en dat sy arm halfpad by die oop venster uit was.
“’n Man het na die voertuig gekom en my arm gegryp. Hy het ook probeer om die deur oop te ruk,” vertel Christo. Terwyl Christo besig was om met die een aanvaller te stoei het ’n ander hom glo van die kant af met ’n pyp oor die kop geslaan.
Christo vertel dat hy in daardie stadium sterre begin sien het. Hy vertel: “Ek het net my kop laat sak en my vuiste geswaai.
Hy vertel dat hy kon voel hoe ’n paar van sy vuishoue geland het.
“Met genade en krag van Bo kon ek terug baklei en myself verdedig en wegkom,” sê hy.
“Ek is net bly dit het nie erger uitgedraai nie. Hulle kon my doodgeskiet of doodgesteek het,” meen hy. Nadat die aanvallers op die vlug geslaan het, is Christo na Midvaalhospitaal vir behandeling. Hy het ’n diep wond aan sy kop opgedoen en moes steke kry.
Christo het hom vroeër vandeesweek tot Facebook gewend om mense te waarsku. Hy het nie ’n saak by die polisie aanhangig gemaak nie.
Kapt. Fikile Funda, ’n polisiewoordvoerder, meen dit is belangrik dat mense voorvalle van misdaad, al is dit hoe gering, by die polisie aanmeld.
Volgens Funda kan die polisie nie op misdaad reageer as hulle nie daarvan kennis dra nie. Hy het ’n beroep op motoriste gedoen om versigtig te wees wanneer hulle in die middestad ry en nie hul vensters oop te hou nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button