NewsNews

Oud Parys-skolier sterf tragies tydens staptog

Die soektog na die 53-jarige Devereaux Pienaar, ‘n oudskolier van Parys, het verlede Saterdag tragies geëindig toe sy liggaam na ‘n soektog van sewe dae, deur soekspanne op die ruwe bergterrein in die Wolkberg-wildernisgebied gevind is.

Devereaux het tydens ‘n staptog wat hy saam met sy jonger broer, Nico (47) op 15 Oktober aangepak het, vermis geraak. Beide Devereaux en Nico was ervare stappers wat vir die eerste keer die staproete van twee dae aangepak het wat deel vorm van die noordelike Drakensberge.
Die broers se water het op die tweede dag van hul staptog opgeraak omdat dit hul langer as verwag geneem het om tot by “Devil’s Knuckles” te kon vorder.
Hulle het daarom besluit om na die beginpunt te probeer terugdraai, maar het verdwaal. Devereaux was toe al swak en gedehidreer. Hoewel hul by ‘n waterval gekom het, het hulle mekaar, en die sak waarin hul selfone was, in die donker en digte mis verloor.
Die gebied is bekend vir sy vinnig veranderende weersomstandighede. Omdat Nico nie geweet het waar Devereaux was nie, het hy besef sy enigste hoop was om so gou moontlik hulp te kry.
Nico is Maandag, 21 Oktober gevind nadat hy vir ses dae in die beboste, bergagtige gebied om oorlewing moes veg. Hy kon met moeite daarin slaag om by die Ramodikwe-dam in die Lenyene-gebied, sowat 40km van Tzaneen af, te kom.
Hy was baie swak en gedehidreer, en kon nie by die hoë damwal afklim nie. Hy het egter die 30-jarige Sydney Mukhabela onder gesien en om hulp geroep.
Die jong taxibestuurder het hom te hulp gesnel en selfs sy eie skoene vir Nico aangetrek sodat hy makliker kon loop, omdat Nico in sy stryd om by hulp te kom, sy skoene in die rivier verloor het.
Sydney het Nico na ‘n kafee in die nabygeleë nedersetting geneem en sy familie gekontak. Soek- en reddingspanne het daarna onverpoosd gewerk om Devereaux te soek. Selfs motorfietse, hommeltuie en vrywilligers het te voet help soek. Een van Devereaux se skoolmaats, Gerhard Streicher, het kort nadat Devereaux se liggaam Saterdag gekry is, die hartseer nuus aan Gazette bevestig en is dit ook op die Hoërskool Parys se Facebook-blad gedeel.
Devereaux se liggaam is skaars ‘n kilometer van waar hy en Nico deur die mis van mekaar geskei is, gevind.
Ons innige medelye met sy vrou, Veronica, kinders Clarissa, Stian en Armand, en dank aan sovele vrywilligers en organisasies wat gehelp het om te soek en na die familie uitgereik het.
Devereaux het as siviele ingenieur in Pretoria gewerk, terwyl Nico by ‘n myn in Witbank werk.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button