NewsNews

Oud-onnie bring digbundel uit

MEYERTON. - ’n Oud-onderwyser wat vir 33 jaar by Hoërskool Dr. Malan Afrikaans gegee het, het pas sy eie digbundel uitgebring. Mnr. Dawie Louw, wat self aan Hoërskool Dr. Malan skoolgegaan het en daarna Afrikaans gegee het nadat hy sy graad aan die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (nou die Noordwes-Universiteit) behaal het, se nuwe bundel heet Luister hoe my siel fluister en bevat sowat 200 bladsye met van sy gedigte.

Sy woorde laat jou stilstaan en vir ‘n oomblik nadink. Die bundel bevat ook briewe wat Dawie aan Mara, sy alterego, geskryf het in sy soeke na sin in die lewe. “Dit is meestal vrae oor dinge wat ek nie weet nie, soos of daar ’n hemel en ’n hel is en wat met ’n ou gaan gebeur,” verduidelik hy by navraag.
Die naam van Dawie se alterego, met wie hy dikwels gesprekke voer, is afkomstig van Mara, die vroulike karakter wat in Eksodus in die Bybel voorkom – wie se naam “bitter” beteken.
Een van die gedigte in Dawie se bundel is aan Johan le Roux, ’n goeie skoolvriend van hom wat in 1970 bekendheid verwerf het vir sy heldedade gedurende die Henley-on-Klip-busramp, opgedra.
Le Roux het ten minste twee kinders se lewens gered deur hulle by die bus se venster uit te stoot voordat die trein die bus getref en hy self in die ongeluk dood is.
* Dawie se dogter, Marguelette Louw, ’n filmmaker, is ook die regisseur van die rolprent Henley-on-Klip wat handel oor die busramp wat op 28 Januarie 1970 by dié dorp plaasgevind het. Dawie se digbundel word deur Malherbe Uitgewers uitgegee en kos R175. Skakel Dawie by 082 784 0552 vir meer inligting oor die boek of om ’n eksemplaar te bestel. Hy verkoop ook CD’s van die fliek oor die busramp.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button