#I’mStaying is ‘n gewilde Facebookgroep met reeds meer as 700 000 volgers en wat daagliks toeneem. Hierdie groep is net die regte medisyne vir mense wat hoop vir ons land nodig het.
Op hierdie groep deel mense van alle groepe, rasse en ouderdomme die redes waarom hul nie SA vir enige ander tuiste sal verruil nie en die boodskappe is verblydend.
Dit skep ‘n eenheid van warmte en gevoel onder landsburgers en skep voorwaar hoop vir die toekoms. Die trane loop gereeld as jy die “posts” lees – sommer van blydskap, medelye en pure trane van trots! Die stiger van die groep, Jarette Petzer van Kaapstad, het waarskynlik nooit kon dink dat dié inisiatief so sou posvat nie. Hy het dit egter intussen besef en onlangs aangevoer dat indien # I’mStaying se mandaat verbreed kan word, verdere inisiatiewe geïmplementeer kan word om selfs die ekonomie te verbeter. Dit is dan ook heel gepas dat Valies ook deel vorm van die groep.
Drickus Schoeman van Vanderbijlpark het onlangs ‘n boodskap op die groep gedeel oor sy ma en ouma wat op 30 Oktober na die poskantoor in die dorp is. Sy ma, wat in ‘n rolstoel is, was besig om uit die kar te klim toe haar bejaarde ma op die poskantoortrappe flou geword en op haar gesig geval het.
Sy het in die proses haar gewrig gebreek en erge kneusplekke aan haar gesig opgedoen. Dit is toe dat twee onbekende mans Drickus se ouma opgehelp en ‘n ambulans ontbied het.
Een van die mans, ‘n karwag, het later opgemerk dat ouma se selfoon langs die trappe agtergebly het nadat sy weggeneem is hospitaal toe.
Intussen het Drickus se ma Ria eers baie later agtergekom dat die selfoon weg is. Sy het besluit om die nommer te skakel. Tot haar verbasing het iemand geantwoord en verduidelik dat hy nie geweet het hoe om die foon te ‘unlock’ en hulle te kontak nie. Hy het aan Ria verduidelik waar sy hom die volgende dag kon ontmoet en het ouma se foon terugbesorg. “Dit is oor mense soos hy dat ek steeds geloof en hoop het vir ons pragtige land.
Baie dankie. Danksy jou bly ek ook net hier,” het Drickus afgesluit.



