Mnr. Wright net die regte man vir dié Noordskool-pos
SASOLBURG. – Met groot afwagting het onderwysers en leerlinge die nuwe kwartaal teruggegaan Noordskool toe. Almal was baie nuuskierig en effens onrustig, want Noordskool het uiteindelik ‘n nuwe hoof, mnr. Jonathan Wright, gekry. Almal was in hul noppies na die eerste saalopening want dit was gou duidelik dat mnr. Wright nét die regte man vir …
SASOLBURG. – Met groot afwagting het onderwysers en leerlinge die nuwe kwartaal teruggegaan Noordskool toe. Almal was baie nuuskierig en effens onrustig, want Noordskool het uiteindelik ‘n nuwe hoof, mnr. Jonathan Wright, gekry. Almal was in hul noppies na die eerste saalopening want dit was gou duidelik dat mnr. Wright nét die regte man vir dié verantwoordelike posisie is.
Mnr. Wright is goed toegerus om die leisels by Noordskool oor te neem. Hy het reeds as student aan die Noordwes-Universiteit se Vaaldriehoekkampus leiding geneem as lid van die Studenteraad, asook lid van die eerste krieketspan waar hy hulle van 2001 tot 2005 nasionaal verteenwoordig het.
Hy het sy onderwysloopbaan in 2005 by Laerskool Suikerbos as ‘n student-onderwyser begin, waarna hy in 2006 by Leeuwspruit Primêre Skool aangestel is. Daar is hy in 2010 tot departementshoof bevorder. In 2012 is hy aangestel as adjunkhoof van Pinedene Primary School in Vanderbijlpark.
Mnr. Wright het ‘n groot liefde vir sport en kultuur en deelname van leerlinge aan verskillende aktiwiteite is vir hom baie belangrik. Hy was betrokke by rugby en krieket op nasionale vlak en het rugby afgerig vir die Valke, en krieket vir die Vrystaat. Hy het goeie prestasies met van sy leerlinge behaal by die Techno X in die Tegnologie-afdeling en is ‘n gekwalifiseerde beoordelaar by die ATKV Redenaars.
Mnr. Wright glo dat norme en waardes deel moet wees van elke leerling se daaglikse doen en late by Noordskool, daarom is dissipline en eerlikheid vir hom baie belangrik. Hierdie waardes wil hy by Noordskoolleerlinge vaslê en sodoende Noordskool as ‘n baken van hoop in die gemeenskap vestig. Mnr. Wright skaar hom agter die sterk onderwysspan van die skool om voort te bou op hul tradisie van uitsonderlike prestasies.



