Die Ventertjies laat die voete jeuk met nuwe album en enkelsnit!
Neem deel aan Vaalweekblad se weeklikse blokraaiwedstryde en staan 'n kans om hierdie album as een van die pryse te wen!

As daar een groep is wat weet hoe om ’n partytjie aan die gang te kry, is dit beslis die bekroonde kitaar-duo, Die Ventertjies. Oor die afgelope ses jaar is die opgewekte en ritmiese verwerkings van hul eie oorspronklike snitte, asook reeds bestaande nommertjies ’n treffer by elke langarm-opskop in die land.
Die duo is ook in Oktober 2019 vereer met ’n Aitsa-musiektoekenning vir Beste Boeremusiek of Tradisionele Album en het onlangs ’n gesogte platekontrak losgeslaan met die musiekreus, Universal Musiek, wat dadelik hul unieke potensiaal kon raaksien.
Nóú is die meisies terug in die kollig met ’n splinternuwe album en enkelsnit, wat beloof om die sukses van al hul voorgangers te oortref! Die JIVE BUNNY BOERE-KEURSPEL is die eerste vrystelling vanaf hul nuwe album, ROER JOU VOETE, wat binnekort gaan koning kraai op elke dansspeellys en waarop Fatman saam met hulle sing.
Dié snit verskil van die gewone Boeremusiek waarvoor hulle bekendheid verwerf het. “Hierdie liedjie is Rock ’n Roll met ’n boere-aanslag en bestaan uit ’n keurspel van almal se gunsteling-voetjeuktreffers uit die 1950’s,” verklap die twee oor hulle nuutste enkelsnit. “Dis vir ons lekker wanneer mense ons musiek geniet en die dansvloer vol is. Jy gaan beslis nie kan stilsit op hierdie liedjie nie, want dis aansteeklik en laat jou voet sommer vanself tik op die lekker ritme.”
Om die opgewekte goedvoel-aanslag van die lied vas te vang, het hulle ’n prettige musiekvideo opgeneem by ’n 50/60’s-tema eetplek in Pretoria. Almal op die video is volgens die tema aangetrek en Christian Wolf van Brickwolf Creatives was aan die stuur van sake agter die kamera. “Fatman is die kelner in ons video wat melkskommels bedien en op ’n kol spring twee van die gaste sommer op om te dans. Ons hoop dat kykers dié video en liedjie net soveel sal geniet as ons.”
Verder is die sussies ook baie opgewonde om hulle nuwe album met almal te deel. Dit bestaan uit ’n heerlike kombinasie van meesleurende treffers wat jou onwillekeurig sal laat saamneurie en jou lyf sal uitnooi om ’n passie of twee uit te voer. Verskeie van die veertien snitte op die speellys is nuwe oorspronklike materiaal, soos Setees met Gees en Ratkas Vastrap, terwyl daar ook heerlike verwerkings is van bestaande gunstelinge soos Lekker Ou Jan en Teenage Queenie. Dan is daar natuurlik ook lekker Boeremusieknommertjies, soos Zambezi en Kan Nie Kla Nie, en hulle sing vir die eerste keer ooit saam op Blanket on the ground. “Na die sukses van ons vorige Country-keurspel, het ons hierdie keer ’n Cowboy Medley ingesluit, wat onder andere Maggie en Don’t Fly Too High bevat,” verklap hulle.
ROER JOU VOETE bly getrou aan die styl waarvoor hulle bekend is, maar wys ook hoeveel hulle as musikante gegroei het.
Nicola (20) en Lindie-Lee (17) Venter het in ’n musikale huis grootgeword en volg in die voetspore van hulle pa, Hennie, wat self ook al vir jare lank in orkeste speel. Alhoewel hulle nie formele musiekopleiding gehad het nie, kan Nicola (melodie-kitaarspeler) nege instrumente speel, waaronder die kitaar, baskitaar, dromme, klavier, klawerbord, banjo, mandolien, mondfluitjie en trekklavier, en Lindie (baskitaarspeler) vier, naamlik die kitaar, baskitaar, klawerbord en banjo. Beide het eers in hulle pa se orkeste gespeel voordat hulle besluit het om ’n duo te vorm.
Hulle het in 2014, as skoliere, naam gemaak met hul debuut-album, Vlinder Vingers, wat hulle gewildste enkelsnit, Lentevrolikheid, opgelewer het waarvan die video al deur meer as 220 000 mense op YouTube gesien is nie. Wikkel Vingers, hul tweede album, het aan hulle ‘n SATMA-toekenning (Beste Boeremusiekalbum) en twee Ghoema-nominasies besorg. Die groep se derde album, Vanaand Dans Ons Weer, is in 2018 uitgereik en is steeds ’n gunsteling op elke partytjiespeellys. Sedertdien het dié groep ook al opgetree by verskeie groot feeste, funksies, plekke en geleenthede regoor die land en Namibië, soos Innibos, die Ghoema-musiektoekenningsgeleentheid, Carnival City en meer.
Die Ventertjies was verlede naweek te sien by die varsTRAP-konsert op 23 November by Carnival City waar nog een van die meisies se wense waar geword het, omdat hulle daar uiteindelik die geleentheid gekry het om saam met een van hulle grootste Boeremusiekhelde, Klipwerf, op te tree.
Die duo beskryf hulself as uniek en passievol en meen dat hulle baie inspirasie en genot put uit die werk van Ricardo Borman en Hansie Roodt, en graag saam met Klipwerf Orkes en Die Campbells sou wou werk. “Ons kan nie ’n spesifieke persoon uitsonder na wie ons opkyk nie, want elkeen het iets anders om te bied. Ons leer, waar ons kan, by elke kunstenaar,” sê hulle.
Oor die uitdaging daarvan om as susters saam te werk, verklap die dames: “Ons stamp soms koppe wanneer dit by musiekkeuses kom, omdat ons nie noodwendig altyd van dieselfde musiek hou nie, maar gelukkig het ons al geleer hoe om die uit te klaar. Die lekkerste deel daarvan om saam op te tree, is die feit dat ons gemaklik is met mekaar en altyd daar is vir mekaar en dit maak ons rustig.”
JIVE BUNNY BOERE-KEURSPEL is beslis een van Die Ventertjies se lekkerste dansnommertjies tot op datum en is die perfekte voorsmakie van wat aanhangers van die res van hulle album kan verwag. Maak sommer vandag nog ROER JOU VOETE deel van jou versameling!
VOLG HULLE OP
- Facebook: https://www.facebook.com/dieventertjies/
- Instagram: @dieventertjies



