EntertainmentEvents

Help dat behoeftiges nie honger gaan slaap

Die voortbestaan van duisende nie-winsgewende welsynsorganisasies (NWO’s) oor die hele Suid-Afrika is in die weegskaal omdat die staat eenvoudig nie meer geld het om hulle te ondersteun nie. Dit beteken dat lewensbelangrike dienste aan derduisende kinders, bejaardes en ander weerloses van alle rasse in duie kan stort. Sowat 50% of minder van NWO’s se uitgawes …

Die voortbestaan van duisende nie-winsgewende welsynsorganisasies (NWO’s) oor die hele Suid-Afrika is in die weegskaal omdat die staat eenvoudig nie meer geld het om hulle te ondersteun nie. Dit beteken dat lewensbelangrike dienste aan derduisende kinders, bejaardes en ander weerloses van alle rasse in duie kan stort.
Sowat 50% of minder van NWO’s se uitgawes word deur die staat betaal. Die res moet hulle self invorder terwyl lewenskoste net aanhou styg.
Marieta Kemp, voorsitter van die nasionale koalisie vir maatskaplike dienste (Nacoss), het verlede week gesê die situasie is tans by ‘n krisispunt omdat talle NWO’s nog nie vanjaar hul subsidie van die departement van maatskaplike ontwikkeling ontvang het nie. Daar is nou reeds verskeie kinderhuise in die land wat nie meer kos vir hul inwoners kan bekostig nie.
Een van die Vaaldriehoek se toevlugsoorde vir behoeftiges wat tans regtig swaar trek, is Lochvaal Emfuleni Welsyn. Hulle het reeds die afgelope drie jaar onsuksesvol by die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit aansoek gedoen vir ‘n subsidie vir watergebruik, want weens die toenemende nood in die Vaaldriehoek kan hulle eenvoudig nie die waterrekening bekostig én die honger monde wat van hulle afhanklik is, voed nie. Hulle word egter elke jaar weggewys met gevolg dat die waterrekening reeds ‘n skokkende R396 293 beloop. Dié welsynsorganisasie ontvang geen staatshulp of subsidie nie en is slegs van die gemeenskap, die sakesektor en hul eie insamelingsprojekte afhanklik vir oorlewing. Die organisasie is wettig by die departement sosiale ontwikkeling (025-188 NPO) geregistreer, asook by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (PBO 930 022 657) met Art.18A vergunning.
Die beursies van Jan Middelklas en Jan Sakeman, wat in die verlede sulke niewinsgewende organisasies kon ondersteun, raak al dunner en bydraes droog vinnig op. Niemand van ons wat nog meer as genoeg kos op die tafel het, mag egter wegkyk terwyl ander in ons midde krepeer nie. Ons sal moet saamstaan en planne maak om die mense in nood te help. Vaalweekblad het in die verlede al as fasiliteerder opgetree om donateurs en bona vide ontvangers by mekaar uit te bring. Ons sal dié rol weer vervul indien nodig. Mense wat skenkings wil doen, kan direk met Lochvaal Emfuleni Welsyn in verbinding tree by (016) 987-1948 of 083 496 9052. Alternatiewelik kan donasies ook gedoen word aan die Lusa-gemeenskapskas by (016) 976 0933 of (016) 976 2064, wat alle skenkings sal toewys aan welsynorganisasies waar die nood op sy hoogste is. – rfichat@media24.com

Related Articles

 
Back to top button