Bekende sakeman en oud-rugbyspeler oorlede
VEREENIGING. - ’n Bekende in Vaaldriehoekse rugbykringe is Woensdag 13 November in sy hospitaalbed in die Millpark-hospitaal in Johannesburg oorlede. Collin Lamont (57) is in Mei vanjaar in die Midvaal-hospitaal in Drie Riviere met longprobleme opgeneem.
Sy toestand het tot so ’n mate verswak dat hy op 1 Augustus na die intensiewe sorgeenheid van dié hospitaal oorgeplaas is.
Dit is hier waar hy vir die afgelope drie en ’n half maande om oorlewing geveg het.
Baie inwoners van die Vaaldriehoek sal Lamont as ’n kranige rugbyspeler onthou wat in sy jonger dae vir die Vaaldriehoek-rugbyklub en Vereeniging-rugbyklub as senter uitgedraf het. Collin het gedurende sy roemryke rugbyloopbaan ook vir die Suid-Afrikaanse Magte en vir die Blou Bulle se o.20-span uitgedraf.
Nadat Lamont 58 wedstryde vir die Vaaldriehoek- rugbyklub gespeel het, het hy hom by die Vereeniging-rugbyklub aangesluit waar hy van 1980 tot 1991 in die nommer 13 trui uitgedraf het. Van die veld af was Lamont ’n eggenoot vir Elsabe Lamont en ’n pa vir Riandi Stander.
Lamont was ook ’n sakeman wat sy eie onderneming gehad het. Hulle het onder meer blindings, lapa-seile en veiligheidsuitrustings vervaardig.
Sy dogter, Riandi, beskryf hom as iemand wat ’n groot invloed op baie mense se lewens gehad het en altyd tyd vir ’n grappie gehad het.
“Hy het altyd mense gehelp waar hy kon. Hy moes altyd besig gebly het en kon nooit stilsit nie,” onthou sy.
Op Facebook het huldeblyke vir Collin ingestroom.
“’n Groot boom het geval in Vereeniging. Wat ’n boytjie was hy nie. Rugbyspeler van formaat. Transvaal senter. Het geen vrees geken nie. Sou graag saam met hom oorlog toe gegaan het,” skryf Martin Bannister.
James van Rensburg, ’n oud-spanmaat van die Vaaldriehoek-rugbyklub, beskryf Collin as ’n besonderse speler.
Lamont is op 25 September 1962 in Vereeniging gebore en het aan Hoërskool Vereeniging gematrikuleer. Hy het sy lewe lank in die Vaaldriehoek gewoon. Lamont word oorleef deur sy vrou, Elsabe, dogter, Riandi, sy twee broers, Marius en Morne Lamont en sy suster, Sonja James.
* ’n Verassingsdiens is Vrydag, 22 November by die NG-gemeente Drie Riviere-Oos in Palmstraat vir hom gehou.





