Photo GalleriesSportSportSport

Vaal spog met driemalige Springbok

Ettienne van Rensburg VANDERBIJLPARK. – Meeste sterflinge sal hul voortande prysgee om in een sportsoort nasionale kleure te verwerf, wat nog te praat van in drie sportsoorte. Die 23-jarige Monique Reyneke, ‘n boorling van die Vaaldriehoek, mag maar met afgemete treë breëbors rondloop. Nie dat sy sal nie. Daarvoor is haar voete te stewig op …

Ettienne van Rensburg
VANDERBIJLPARK. – Meeste sterflinge sal hul voortande prysgee om in een sportsoort nasionale kleure te verwerf, wat nog te praat van in drie sportsoorte.
Die 23-jarige Monique Reyneke, ‘n boorling van die Vaaldriehoek, mag maar met afgemete treë breëbors rondloop. Nie dat sy sal nie.
Daarvoor is haar voete te stewig op Moeder Aarde geanker. Daarvan sal enigeen wat haar ken kan getuig.
Dié oud-leerling van die Hoërskool Transvalia in Vanderbijlpark het onlangs haar grootste lewensdroom verwesenlik toe sy haar Protea-kleure in netbal verwerf het.
Sy was ook deel van die seëvierende Protea vroue-netbalspan wat onlangs as die Afrika-kampioen gekroon is.
“Ek het my Protea-kleure in korfbal en ringtennis verwerf, maar dit was altyd my groot droom om dit in netbal reg te kry. Dit (die sege in die Afrika-eindstryd) is ‘n gevoel wat ek nie kan beskryf of ooit sal vergeet nie,” gee sy te kenne.
Die netbalgogga het haar reeds voorskool gebyt en sedertdien is daar geen keer aan haar nie.
Sy het na matriek haar netballoopbaan aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus voortgesit waar sy as kaptein van die NWU se Varsitybeker- en USSA-span gekies is. Maar sy het ook voorsiening vir die lewe na netbal gemaak.
“Ek het voorgraads BA Menslike Bewegingskunde en Sielkunde studeer en vanjaar my honneursgraad in sportwetenskap voltooi. Aanstaande jaar is ek ‘n werkende vrou.
“Ek gaan by die Institute for Sport Science and Sport Development (ISSD) my interskap doen,” sê sy opgewonde.
Volgens haar maak dit nie saak of sy verdedigende vleuel, hulpdoel- of hoofdoelverdediger vir die Proteas speel nie, solank sy net op die baan is.
Sy is die enigste kind van Coenie (59) en Miemie (58) Reyneke en dis geen verrassing dat hulle haar grootste ondersteuners is nie.
“Ek het die wonderlikste ouers. Hulle staan my deur dik en dun by. Hulle is altyd daar vir my.”
Sy besef terdeë dat groot drome harde werk verg.
Daarom oefen sy tien keer per week. “Om die Protea-span te haal is moeilik, maar om daar te bly is selfs moeiliker.
“Dit was my doelwit om die mense verkeerd te bewys en ander te inspireer om hul drome uit te leef.”
Haar filosofie wat sport betref, is eenvoudig: Omskep kritiek in ‘n positiewe.
Sy is nie verniet die Protea-span se groot motiveerder op en an die veld nie.
“Ek gee nooit op nie, maar ek is soms te hard op myself.
“As ek die gleentheid kry om oorsee te speel, sal ek dit met albei hande aangryp, maar vir nou wil ek net die beste wees wat ek kan wees.”

 

Related Articles

 
Back to top button