BusinessLocal newsNews

Park Panel Beaters: Wéér die beste duikkloppers in Suid-Afrika!

Park Panel Beaters in Vanderbijlpark is vir die tweede agtereenvolgende jaar in ‘n hoëgehalte peiling as die beste duikkloponderneming in Suid-Afrika aangewys!

Park Panel Beaters het in 1967 as ‘n klein maar doelgerigte duikkloponderneming in Vanderbijlpark begin. Dié familiesaak het aanhou groei tot ‘n uitblinker-onderneming wat onlangs vir die tweede agtereenvolgende jaar in ‘n hoëgehalte peiling as die beste duikkloponderneming in Suid-Afrika aangewys is.

Die aankondiging is onlangs by die South African Motor Body Repair Association (SAMBRA) se nasionale konferensie gemaak nadat Lightstone, ‘n leier op die gebied van data-analisering in die voertuig-industrie, verbruikers se tevredenheid met duikklopondernemings landwyd gemeet het. Die kriteria het onder meer die gehalte en tydsduur van herstelwerk, sowel as personeel se vriendelikheid en professionaliteit ingesluit. Park Panel Beaters was die top-uitblinker op al dié gebiede.

Die grondlegger van Park Panel Beaters, Gerhard Schuhknecht, het in die beginjare van Vanderbijlpark as 14-jarige saam met sy ouers vanaf Duitsland na Suid-Afrika geïmmigreer en hulle in die dorp gevestig. Gerhard het na skool as vakleerling by die destydse Jones Panel Beaters op die Barrage-pad sy ambag begin.
Hy en sy vrou, Marie, is op 12 Mei 1962 getroud en het na baie toewyding en harde werk, genoeg geld gespaar om hul eie paneelklop-onderneming te begin.
Park Panel Beaters se deure het op 1 November 1967 in Cartwrightstraat, in Vanderbijlpark se ligte nywerheidsgebied, geopen. Gerhard se oorlede pa het destyds die eerste geboue op die perseel waar dié onderneming steeds is, help bou.
Daar was eers net een kantoortjie en later ‘n afdak of twee. Vandag is die ruim geboue en moderne werkswinkels ‘n toonbeeld van hoe dit gedoen moet word. Met sy gerespekteerde naam, sy werkverskaffing aan talle inwoners en sy bydrae tot die gebied se ekonomie is Park Panel Beaters ‘n ware juweel in die Vaaldriehoek se sake-kroon.
Drie kinders is uit Gerhard en Marie se huwelik gebore: Karl, Antonette en Anton, en al drie het reeds kort na skool betrokke geraak by die onderneming om so ook Gerhard en Marie se droom te laat voortleef. Antonette is in 2009 oorlede, maar albei broers, hul vroue Louise en Michelle, sowel as die kleinseuns Heinrich en Reinard is nog almal aktief betrokke by die onderneming en strewe daarna om Park Panel Beaters se doelwitte te behaal en uithalerdiens aan hul kliënte te bied.
Aangesien Park Panelbeaters hul deel wil doen om die negatiewe invloed van chemikalieë op die omgewing te beperk, het die onderneming reeds jare gelede oorgeskakel na waterbasisverwe om besoedeling tot die minimum te beperk. Alle oorskotstaal en -plastiek word vir herprosessering aan herwinningsmaatskappye gestuur.
Park Panel Beaters het deur die jare van krag tot krag gegroei en lewer diens aan die meeste versekeringsmaatskappye. Hulle het ook goedkeuring van die volgende voertuigfabrikate om aan hul voertuie te werk: Toyota, Honda, VW, Audi, Ford en Mazda, Kia, Renault, Jeep, Chrysler, Peugeot, Citroen, Nissan, Hyundai en GM.

 

Park Panelbeaters se bestuurspan bestaan uit (voor van links): Karl Schuhknecht (seun), Marie Schuhknecht, Gerhard Schuhknecht, die ‘vader’ van Park Panebeaters wat op 8 November sy 80ste verjaardag gevier het, Anton Schuhknecht (seun) en Heinrich Schuhknecht (kleinseun). Agter van links is Louise Schuhknecht (skoondogter), Reinard Schuhknecht (kleinseun) en Michelle Schuhknecht (skoondogter).

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button