Hartseer nuus: Mariekie Willemse oorlede
Die Gedenkdiens word Vrydag, 20 Desember om 14:00 by die NG Gemeente Sentraal in Lion Cachetstraat, Vanderbijlpark, gehou.
Vaalweekblad het met groot hartseer verneem dat mev. Mariekie Willemse, eienaar van die bekende Finansiele Adviesmaatskappy in Vanderbijlpark wat haar naam dra, op Maandag, 16 Desember, in Emfuleni Mediclinic oorlede is.
Haar seun, Chris, het aan Vaalweekblad gesê dat sy die afgelope tyd gesondheidsprobleme gehad het, maar onverwags kritiek siek geword het en gehospitaliseer moes word. Sy is in ‘n geïnduseerde koma geplaas en het Maandag haar stryd verloor.
“Haar heengaan is ‘n baie groot verlies vir ons. Ons gaan haar verskriklik mis,” sê Chris.
Die Gedenkdiens word Vrydag, 20 Desember om 14:00 by die NG Gemeente Sentraal in Lion Cachetstraat, Vanderbijlpark, gehou.
**********************
Danksy mev. Willemse se uitstekende bestuursvernuf het sy jare gelede reeds intensiewe opvolginsbeplanning gedoen en is die bestuurspan en personeel van die onderneming gerat om soos altyd voort te gaan om uitstekende diens aan hul jarelange sowel as nuwe kliënte te lewer.
“Ons verseker ons kliënte dat ons firma se werksaamhede soos normaalweg sal voortgaan en dat hul belange soos altyd veilig en beskermd is,” sê Chris. Kliënte is welkom om die kantore van Mariekie Willemse & Associates in Louis Trichardt-boulevared te kontak as daar enige navrae is.
- Lees die berig oor Mariekie Willemse wat verlede jaar in Vaalweekblad verskyn het, hier onder:
Finansiële advies en familiewaardes is MWA Groep se wenresep.
VANDERBIJLPARK. – Veelsydigheid is ‘n woord wat beslis by Mariekie Willemse pas. Dié voormalige kleuter- en musiekjuffrou is vandag die hoogs suksesvolle uitvoerende bestuurshoof van ‘n geregistreerde finansiële diensverskaffer wat deur die jare reeds duisende kliënte landwyd van uitmuntende raad met hul geldsake bedien het.
Mariekie Willemse & Associates se verskillende finansiële departemente lewer ‘n wye reeks gespesialiseerde dienste wat Beleggings en Aftrede, Boedels en Belasting, asook Korttermynversekering, Mediese versekering, finansiële state, skuldberading en sekwestrasies kan aanbied, om maar net ‘n paar te noem.
Hoewel die Mariekie Willemse Groep (MWA Groep) nie self regsake hanteer nie, word daar in noue samewerking met die prokureurs De Klerk, Vermaak en Vennote gewerk.
Mariekie, wat in Port Elizabeth as die oudste van ses kinders gebore is, het as tiener saam met haar ouers na Vanderbijlpark verhuis. Na voltooiing van haar skoolloopbaan was sy onder andere ‘n kleuterskool- en musiekjuffrou voordat sy besluit het om haar vlerke te sprei en ‘n sekretariële en bemarkingskursus te doen. Sy was ‘n tyd lank by die destydse Yskor se indiensnemingsafdeling betrokke voordat sy in 1988 by Sanlam tot einde 1992 en in 1993 tot 2002 as spesialis-adviseur by Iemas betrokke geraak het.
Sy was ook deel van die destydse Iscor Opportunity Centre tydens die groot afleggings vanaf 1998 tot 2002. Die ervaring het ‘n groot indruk op my lewe gemaak as finansiele adviseur omdat jy met ‘n werknemer/klient se emosies ook moet werk en nie net sy/haar finansies hanteer nie.
Sommer vroeg in Mariekie se loopbaan is sy vereer as die eerste vrou in Sanlam se geskiedenis wat as nasionale Makelaar van die Jaar aangewys is. In dieselfde jaar het sy dié nasionale toekenning ook by Ou Mutual verwerf. Dit is deur die jare opgevolg met verskeie top- en diamanttoekennings van verskillende versekeringsmaatskappye- te veel om op te noem!
In 2002 het sy as Mariekie Willemse & Associates ‘n onafhanklike adviseur geword, en vinnig naam gemaak as uiters bekwame en vertroude finansiële raadgewer. In Oktober daardie jaar het sy die gebou in Louis Trichard-boulevard gekoop, waaruit die onderneming met al sy vertakkings nou reeds 16 jaar bedryf word.
Hoewel die onderneming aanvanklik as finansiële raadgewers begin is, het kliënte se behoeftes mettertyd uitgebrei en moes MWA Groep dienooreenkomstig uitbrei om omvattender gelisensieerde en geakkrediteerde dienste te kon lewer.
“Ons span het begin met verkrygings, assosiasies en vennootskappe wat ons dienste en intellektuele kapasiteit verder verbeter het. Vandag kan ons met reg daarop aanspraak maak dat ons die ‘Eenstop-Finansiële dienste’ lewer, waar verskeie aspekte van individue of sakeondernemings se behoeftes onder een sambreel behartig kan word. Die direkteure is almal spesialiste op hul onderskeie gebiede – elkeen het ‘n passie vir ons kliënte, ons groep en vir hul onderskeie take,” sê Mariekie, wat hoofuitvoerende beampte van MWA Groep is.
“Hoewel ons aanvanklik as ‘n familie-onderneming begin het, is ons vandag ‘n hoogs professionele groep met ‘n sterk toekomsvisie en deeglike opvolgingsbeplanning. Al is ek eendag nie meer hier nie, sal die onderneming nog dekades lank met groot sukses kan voortgaan,” sê sy.
Al is die groep vandag soveel groter en sterker as in sy begindae, roem die direkteure daarop dat hulle steeds groot klem op die oorspronklike familiewaardes plaas, en met groot sorg, opregtheid en persoonlike aandag omsien na elkeen van hul kliënte se sake.
“Finansiële adviesdienste is deesdae ‘n komplekse terrein waar die direkteure en personeel voortdurend aanhou studeer om op hoogte te bly met nuwe wetgewing en vereistes. Dit versterk nie net MWA Groep se posisie as stabiele onderneming nie, maar bied aan kliënte die gemoedsrus dat hulle nie voor onvoorsiene struikelblokke of valstrikke waarin onervare diensverskaffer dalk mag trap, te staan sal kom nie,” sê Mariekie.
Buiten haar onderneming, bly Mariekie se huisgesin steeds die grootste vreugdes in haar lewe. Haar kinders se sukses en die geboorte van haar eerste kleinkind, is ongetwyfeld die hoogtepunte van haar lewe. “Sonder my man van die afgelope 46 jaar, Seun, en al my kinders se bystand sou ek nie my loopbaansukses kon bereik het nie. Hulle is deel van die wenspan wat dit alles moontlik gemaak het,” sê Mariekie.
****************************
VAALWEEKBLAD NEEM HIERMEE OOK HARTSEER AFSKEID VAN ‘N GEWAARDEERDE KLIëNT EN GELIEFDE VRIENDIN VAN DIE KOERANT, WAT OP VERSKEIE MANIERE ‘N VOETSPOOR IN DIE VAALDRIEHOEK NALAAT. ONS INNIGE SIMPATIE AAN MARIEKIE SE FAMILIE, PERSONEEL EN WYE VRIENDEKRING.



