Baie ongelukke, beserings oor naweek in Vaal
Daar was die afgelope naweek verskeie ongelukke en beserings in en rondom die Vaal-area. Die naweek het sleg begin toe ‘n 35-jarige fietsryer Vrydagoggend op die Barregeweg in Vanderbijlpark raakgery en veelvuldige ernstige beserings opgedoen het. Op dieselfde dag, bietjie later die oggend, is ‘n 71-jarige vrou ernstig beseer toe die voertuig waarin sy was ook …
Daar was die afgelope naweek verskeie ongelukke en beserings in en rondom die Vaal-area. Die naweek het sleg begin toe ‘n 35-jarige fietsryer Vrydagoggend op die Barregeweg in Vanderbijlpark raakgery en veelvuldige ernstige beserings opgedoen het.
Op dieselfde dag, bietjie later die oggend, is ‘n 71-jarige vrou ernstig beseer toe die voertuig waarin sy was ook op die Barrageweg (R42) in Vanderbijlpark gerol het. ER24 se nooddienspersoneel het by die ongelukstoneel opgedaag waar ‘n bejaarde man rondgeloop het terwyl hy vir hulp gewag het. Binne-in die voertuig was die bejaarde vrou steeds in die passasiersitplek gevind.
Sy is versigtig uit die voertuig gehaal en ondersoek. Sy is vir veelvuldige beserings op die toneel behandel voordat sy na ‘n kliniek geneem is vir verdere behandeling. Albei bogenoemde ongelukke word steeds ondersoek.
Op dieselfde dag het vyf vroue ligte beserings opgedoen toe twee voertuie in Frikkie Meyer-boulevard in Vanderbijlpark teen mekaar gebots het. Hoewel nie een ernstig beseer is nie, is al vyf hospitaal toe geneem vir behandeling.
In Drie Riviere, Vereeniging was twee bakkies in ‘n ongeluk betrokke. Die bestuurder van ‘n Toyota Hilux uit die rigting van die Dick Fourie-stadium, wou by Zambesistraat indraai by die drierigting stopstraat. Na bewering het ‘n vragmotor wat van die teen oorgestelde rigting af gekom het, vir die Toyota Hilux-betuurder gewys sy kan voorkeur kry om voor hom te draai. ‘n Silwer Ford Bantam uit dieselfde rigting as die vragmotor en die Toyota Hilux bakkie het toe teen mekaar gebots. ER24 sowel as polisiebeampes was op toneel. Niemand is gelukkig ernstig beseer nie.
Saterdag is 34-jarige man egter ernstig beseer toe sy hand in ‘n baalmasjien op ‘n plaas in Heidelberg vasgevang is. Mediese personeel van R24 het omstreeks 12:30 by die plaas opgedaag, waar hulle die man se hand uit die baalmasjien moes bevry. Sy besering was van so aard dat hy met ‘n mediese helikoper weggeneem moes word vir verdere behandeling.





