Rudi Muller se ‘Nuwe Dag’ voed die siel op ‘n lekker-luister manier
Na vele ander albums, is Rudi Muller terug met ‘n splinternuwe geestelike album wat beloof om een van dié albums van die jaar te wees.

Rudi Muller is lank nie meer ‘n groentjie in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf nie. Hierdie jongman het reeds op ‘n vroeë ouderdom besef musiek vloei deur sy are. In 1999 het hy sy eerste platekontrak losgeslaan en kort daarna het “Kan jy my hoor” die rakke getref. Dit was nie lank nie, toe is Rudi op elke fees en verhoog in die land te sien. 2002 skuif hy oor na EMI en kry die geleentheid om met internasionaal bekroonde liedjieskrywer, Lourens Fourie te werk – ‘n man wat ook baie van Dana Winner se liedjies geskryf het.
Die dood van sy pa in 2010 het ‘n omwenteling in Rudi se lewe gebring en sy lewensuitkyk onherroeplik verander. Nie net het sy lewe verander nie, maar ook sy musiek.
Na vele ander albums, is Rudi Muller terug met ‘n splinternuwe geestelike album wat beloof om een van dié albums van die jaar te wees. Met Nuwe Dag gaan Rudi grense verskuif, baanbrekerswerk doen en die persepsie oor “Gospel”-musiek heeltemal verander.
Rudi neem geestelike musiek na ‘n heel nuwe vlak. ‘n Vlak wat oud en jonk, klein- en groot gelowiges gaan geniet. Sonder pretensie wys hy dat God om ons is, in die motor, selfs langs die braaivleisvuur…
Daar is diepte tussen die lyne van Nuwe Dag wat jou siel gaan voed op ‘n lekker-luister manier.Rudi glo God het ons hier geplaas vir ‘n rede. “‘n Land vol uitdagings; maar kom ons loof die Here, geniet die musiek, want hierdie land is nie ons sin nie – dis God s’n. Ons is hier vir ‘n rede, op die regte tyd en regte plek” sê hy. Wel, dit kan mens van sy nuwe album ook sê.



