NewsNews

Hoërskool Driehoek: Onthou en herbou

VANDERBIJLPARK. - Onthou en herbou. Net dit. In groot letters oor Saterdag, 1 Februarie gedruk in Hoërskool Driehoek se huiswerkboek van 2020.

Ons onthou almal daardie verskriklike oggend verlede jaar toe ‘n gedeelte van ‘n betonbrug meegegee het. Vanderbijlpark het lank gerou. Daar moes van vier jong lewens afskeid geneem word en talle ander is ernstig beseer. Pers en geel strikkies was oral te sien. Soos die tyd aangestap het, het die linte minder geword, die lewe het aangegaan. Nou is daar byna ‘n jaar verby.
Maar, net soos die skool, het die gemeenskap ook nie vergeet nie.
Op Vrydag, 31 Januarie, gaan pastoor Vian Storm van River of Life-gemeente ‘n herdenkingsdiens tydens die skool se saalopening lei. As alles volgens plan verloop, sal daar ook ‘n gedenk-kunswerk na die diens onthul word. Vaalweekblad beplan om in die volgende uitgawe daaroor te berig in ‘n spesiale gedenkbylae.
Hoërskool Driehoek se skoolhoof, mnr. Ricardo Erasmus, het verlede week tydens Vaalweekblad se besoek aan die skool gesê:
Hierdie (die herdenkingstyd) is ‘n onbekende terrein vir ons almal Dis moeilik. Ons onthou. Ons sal altyd onthou, maar ons gaan ook aan. Ons moet.”
Die skool sal altyd dankbaar bly vir almal wat verlede jaar ingespring en gehelp het, asook vir al die gebede en emosionele ondersteuning wat hulle van regoor die land gekry het.
2019 was beslis een van die moeilikste jare in die skool se geskiedenis. Na die voorval is daar lank in tente klas gegee en die matrikulante moes in die aande ekstra klasse bywoon om verlore skoolwerk in te haal. Ten spyte daarvan het die matrikulante steeds top resultate in die matriek eindeksamen gelewer. Hoërskool Driehoek het oorwin deur volharding.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button