Goed in sy werk, maar iets het gekort. Dit het vir hom gevoel hy maak net “dooie” dinge uit die staal. Dieselfde staal wat hy geweet het lewe onder sy gevoelige vingers sal kry.
Derhalwe het hy bedank en begin om vlekvrye staal in kunswerke te omskep wat lyk asof dit leef. Jacques se kreatiwiteit ken geen perke nie.
Hy kry soms ‘n spesifieke idee wat hy eers teken, partykeer sommer op sy werkskamer se vloer om seker te maak dit gaan nie verlore nie. Meeste van die tyd sal hy later ‘n voornemende kliënt ontmoet of ‘n situasie beleef wat vir presies so ‘n kunswerk vra.

Hy onthou hoe hy sowat 15 jaar gelede deel was van ‘n uitstalling by Gallagher Estate. “Ek het so ‘n hoek spasie gehad waar ek my werk kon uitstal. My vrou en pa het nog gehelp. Ek het besig geraak om met mense te gesels en toe ek weer opkyk, was die loopgang heeltemal geblokkeer, so baie mense het gestop om na die beelde te kyk,” vertel Jacques trots. Hy werk hoofsaaklik met vlekvrye staal, maar span ook koolstofvesel en koper in om sy driedimensionele beelde te bou.
Die beelde word slegs met die hand en met handgereedskap gevorm. Sy passie en toegewydheid is in 2016 beloon toe hy as wenner van die Southern
Africa Stainless Steel Development Association (SASSDA) se kunsafdeling aangewys is. In 2018 was hy dan ook beoordelaar vir hierdie toekennings.
Elkeen van sy beelde is uniek en vertel ‘n storie. Selfs wanneer ‘n spesifieke werk aangevra is deur ‘n kliënt, het dit gewoonlik ‘n verdere geestelike simboliek vir hom. “Hierdie is nie my werk nie. Dit is my lewe, my passie en my roeping. Ek verkies om in die nag te werk. Dan is daar niemand wat jou pla nie en kan ek al my aandag daaraan gee om die visie in my kop presies in die staal weer te gee,” sê Jacque terwyl hy sekuur oor ‘n gedeelte van sy nuutste skepping vee.
Diè kunswerk in wording het hy spesiaal vir Hoërskool Driehoek ontwerp en hy hoop om dit komende Vrydag, 31 Januarie, te onthul.



