NewsNews

Korona-virus: ‘Baie Suid-Afrikaners paniekerig, maar ons is rustig’

“Baie Suid-Afrikaners in China is paniekerig en wil huis toe gaan, maar ons is rustig. Baie mense is al van die virus genees en byna al die mense wat weens die virus dood is, was bejaarde mense met reeds bestaande siektetoestande.”

Dit is die boodskap van Marianke Saayman, ‘n oud-kollega van Vaalweekblad se susterskoerant, die Potchefstroom Herald, wat op 31 Desember saam met ‘n vriend Potchefstroom gegroet het om te gaan skoolhou in Hangzhou, China. Sy het verlede week Sondag uit China laat weet dat daar 12 mense in die stad Hangzhou met die virus besmet is. Sedert hul aankoms in die stad het hulle dit as baie skoon en veilig ervaar.
As gevolg van die virus en die vinnige verspreiding daarvan, word beweging nou beperk en is hulle genoodsaak om tuis te bly, hoewel hulle tans met vakansie is.

Marianke Saayman, voormalige joernalis van die Potchefstroom Herald, op haar
balkon met die stad Hangzhou in die agtergrond. Foto: Verskaf

“Wanneer ons winkel toe gaan, sit ons maskers aan. “Baie van die winkels se maskers is al uitverkoop. Treine is ook stil en leeg. “Dit is vreemd om ‘n
besige stad so stil te sien,” vertel Marianke. Die meeste Korona-virus gevalle was tot dusver in Wuhan waar die virus ontstaan het. Wuhan is sowat 750km van Hangzhou, maar in Hangzhou self is nog tot dusver geen sterftes aangemeld nie, sê Marianke. “Ons skole sou Vrydag weer begin, maar soos wat dit nou lyk, gaan ons al ons klasse aanlyn aanbied sodat die kinders nie skool toe hoef te gaan nie.”
Liezl Scheepers van Vaalweekblad se susterskoerant, Parys Gazette, het intussen ook van verskeie ander Parysenaars en oud-Parysenaars gehoor wat tans in China is.
Johan en Talita Jacobs wat in Yushan in die Jianxi-provinsie 600km van Wuhan woon, het die volgende op hul Facebook-blad gedeel: “Klink vir my soos ‘n zombi apocalypse. Dit was my seun se reaksie nadat ek hom op hoogte gebring het van ons huidige situasie in China. Ek lees op sosiale media groepe van mense wat wil hê die SA-regering moet soos die Amerikaners optree en hul mense uit die land ontruim. Mense moet mooi dink voordat hulle hul kinders en geliefdes motiveer om die land te verlaat.
“Die risiko om die gogga SA toe te vat is net te groot en SA het nie die hulpbronne om iets soos dié te hanteer nie.”
Meer oor die Korona-virus Die eerste pasiënt is op 31 Desember met die Korona-virus gediagnoseer. Teen verlede Sondag het 56 (intussen vermeerder na 362) mense reeds aan die virus gesterf en is 2 051 (3 Feb. was dit 17 391 wêreldwyd) mense met die virus besmet. Meeste van die gevalle is in China, maar daar is ook gevalle in ander lande soos Australië, Viëtnam, Singapoer, Japan, Suid-Korea, Taiwan, Thailand en Amerika, aangemeld. Maandagaand is die eerste geval aan die Ivoorkus in Afrika bevestig – ‘n pasiënt wat in China studeer en met haar aankoms Saterdag op ‘n vlug
uit Beijing in kwarantyn geplaas is.
Die virus staan tans as die 2019 nCoV bekend, en is nog nie vantevore in dié vorm in mense gevind nie. Die naam is afgelei van die kroonvorm van die virus as dit onder ‘n mikroskoop bekyk word. Dit word in die lug oorgedra en tas meestal die boonste respiratoriese en spysverteringstelsel van mense en voëls aan. Simptome is soos dié van die Sars (ernstige akute asemhalingsindroom) en die Mers-virus (Midde-Ooste asemhalingsindroom).
Byna 800 mense is in die vroeg 2000’s dood aan die Sars-virus. In 2012 het 282 mense aan Mers gesterf.
Die Korona-virus teiken meestal ouer mense wat chroniese siektetoestande het. Die virus het by ‘n mark in Wuhan ontstaan. Die mark is sedertdien gesluit. Aanvanklike navorsing het aangedui dat die virus van slange, maar ook bes moontlik van rotte na mense oorgedra kan word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button