Niemand is seker waar sy voorheen geskrop het nie. Sy het self haar intrek geneem en gebly. ‘n Baie slim skuif, want so het sy nou in hoenderhemel op aarde beland. Die skoolhoof, Mnr. Martin Erasmus, sê hulle het rondgevra maar kon nooit die hen se eienaar opspoor nie.
Sy het haar tyd verwyl tussen die plante en niemand gepla nie. Op ‘n dag het sy egter eiers gelê en tervergeefs daarop gaan sit. Departemenshoof Chòntelez Blake-Zwarts sê sy het bekommerd begin raak, want die hennetjie het ophou eet. “Ons kon haar nie net so los nie, toe gaan vang ons maar vir haar ‘n haantjie op my man se tannie se plaas.”
Die haan en sy hen is “Chicken” en “Licken” gedoop. Blykbaar was dit nie liefde met die eerste oogopslag nie, maar die vere het darem nie gewaai nie. Dit was ook nie lank nie toe skrop die twee lustig saam in die tuin agter die kiosk. “Ons het nie eens besef sy het êrens nes gemaak en eiers gelê nie”, vertel Chòntelez. “Vlak voor die skole gesluit het verlede jaar, toe is daar skielik sewe kuikens wat agter Chicken en Licken aanloop.”

Die kuikens het intussen al amper uitgegroei en lyk heel tuis op die skoolgronde. Hulle was egter nie heeltemal gediend om stil te staan vir ‘n foto nie, al het vier parate Totius leerders hulle probeer in die oopte kry.
Die hoenders het hul eie hok naby die Graad R klaskamer, maar loop meeste van die tyd vry rond. Na wat verneem word is die jongelinge baie lief vir die hoenders, maar hulle is tog bekommerd die hoenders gaan al die erdwurms opeet. Gelukkig is daar nie sprake van nie, want hierdie hoendertjies eet al te lekker aan enige kos wat die kinders tydens pouse laat val en dien ook sommer as natuurlike pesbeheer in die skooltuine.



