NewsNewsBreaking News

Swaar reënval lei tot oorstromings langs Kliprivier

HENLEY-ON-KLIP. – Die swaar reënval van die naweek het tot oorstromings in gebiede langs die Kliprivier gelei. Terwyl stygende watervlakke laagwaterbruggies en sekere strate in Henley-on-Klip ontoeganklik gemaak het moes inwoners van Daleside hul wonings inderhaas ontruim toe watervlakke Sondagaand begin styg het. Volgens Tony van Rensburg, eienaar van die Ixoxo-woonstelkompleks in Daleside, moes ongeveer …

HENLEY-ON-KLIP. – Die swaar reënval van die naweek het tot oorstromings in gebiede langs die Kliprivier gelei.
Terwyl stygende watervlakke laagwaterbruggies en sekere strate in Henley-on-Klip ontoeganklik gemaak het moes inwoners van Daleside hul wonings inderhaas ontruim toe watervlakke Sondagaand begin styg het.
Volgens Tony van Rensburg, eienaar van die Ixoxo-woonstelkompleks in Daleside, moes ongeveer 10 gesinne wat op die perseel bly hul eenhede ontruim.
Terwyl sommige van die mense in hul karre geslaap het, het ander tente opgeslaan. Sommige van die inwoners moes die nag by familie of vriende spandeer.
Van Rensburg vertel dat dit nie die eerste keer is wat die perseel onder vloedwaters deurloop nie. In 2010 het Vaalweekblad ook berig dat dit daar oostroom het.
Volgens Van Rensburg het hulle intussen ’n keerwal laat bou sodat inwoners meer tyd het om hul eenhede te ontruim wanneer die Kliprivier opstoot.
Andries Kutoane, onderhoof van die nabygeleë Thomas Nhlapo Primary School in Daleside het laat weet dat watervlakke gelukkig nie tot by die skool gestyg nie. Klasse kon dus onverhinderd voortgaan.
’n Laagliggende veld by die Dick Fourie Stadion in Vereeniging was vroeër vandeesweek ook onder water toe die Kliprivier opgestoot het.
Verder met die stroom af is die Shell South City-vulstasie in Eikenhof Sondag genoop om te sluit nadat vloedwater dit ontoeganklik gemaak het.
Volgens die vulstasie se bestuurder, Rehmat Ali, het die vloedwaters boonop ’n elektriese kortsluiting veroorsaak. Die vulstasie was teen Maandag weer oop vir besigheid nadat watervlakke gesak het.
Hannes Steyn, brandweerhoof van die Midvaal-munisipaliteit, het bevestig dat inwoners wat naby die rivier bly in sommige gevalle hul wonings moes ontruim.
Volgens Steyn het nood- en reddingsdienste ook gehelp waar hulle kon om water uit te pomp.
Hy sê dat riviervlakke deurlopend gemonitor word.
Volgens hom blyk dit egter of die ergste verby is watervlakke en dat watervlakke besig is om te daal.

Brian Ngwenya dra meubels uit ’n wooneenheid in die Ixoxo-woonkompleks in Daleside, langs die Kliprivier. Inwoners moes hul wooneenhede Sondag ontruim toe die vloedwaters van die Kliprivier opgestoot het.

Die laagwaterbrug in Iffley Road in Henley-on-Klip was Maandag onder water nadat swaar reënval die Kliprivier laat opstoot het.

’n Gebou in Daleside nadat die Kliprivier oorstroom het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button