“Sy was so passievol en lief vir die leeus. Sy het in Desember vir my gesê sy gaan vroeër terug na die reservaat – na haar leeus toe,” het ‘n hartseer mev.
Carla van Wyk van Drie Riviere, Dinsdag aan Vaalweekblad vertel.
Swané het die afgelope jaar en byna twee maande by die Zwartkloof Privaat Wildreservaat buite Bela-Bela (Warmbad) gewerk en gewoon. Die tragedie het verlede week Donderdag omstreeks 17:00 gebeur. Swané het die noodlottige dag haar daaglikse take gedoen toe sy in die afgesperde kamp deur die leeus aangeval is. Daar is tans nie sekerheid deur hoeveel leeus sy aangeval is nie.

Haar medewerkers het glo gehoor hoe sy om hulp skree. Swané het daarin geslaag om uit die kamp te vlug, maar is later op die toneel dood. Daar was diep byt- en skraapwonde aan haar. Kort na haar dood het boodskappe van medelye op haar Facebookblad ingestroom. Die reservaat het glo ook sy hekke vir ‘n geruime tyd gesluit terwyl werkers die tragedie verwerk. Daar is ook nog nie sekerheid of daar van die leeus van kant gemaak is nie. Swané was ‘n leerling aan die Laerskool Risiville en was vir die eerste twee jaar van haar hoërskoolloopbaan ‘n leerling aan Hoërskool Overvaal. Sy het daarna ‘n Dokkie geword en het in 2016 aan die Hoërskool Dr. Malan in Meyerton gematrikuleer. “Ons het nog geen inligting oor die omstadighede rondom haar dood ontvang nie,” het mev. Van Wyk afgesluit.



