Retha Fitchat
“Die dokter sê Cheverné hou net-net vas. Bid asseblief!”
Dit was die versoek van familie en vriende van Cheverné Duvenhage (toe 13) kort nadat die loopbrug op 1 Februarie verlede jaar geval het. Drie werwels in haar laerug, sowel as albei haar heupbene was gebreek. Daar moes so gou as moontlik geopereer word om ‘n groot wond in haar buik toe te maak en bloedklonte is in haar longe gekry. Haar een nier was beskadig en daar was ‘n slegte besering aan haar voet.
Cheverné se toestand was in die eerste dae na die tragedie bedenklik. Haar lewe het aan ‘n draadjie gehang maar dokters het gemeen as sy die eerste 48 uur kon oorleef, was daar ‘n kans dat sy dalk deurgehaal sou kon word.
Dié mooi tiener hét toe oorleef en hoewel nie ongeskonde nie, is sy nou deur die ergste. Ondanks die lang tyd wat sy in die hospitaal moes deurbring, het sy haar Graad 8 goed geslaag.
En hoe gaan dit nou met haar? Volgens haar ma verskil elke dag van die vorige.
“Ons grootste uitdaging is haar emosionele kant en om haar vrae te beantwoord soos ‘Hoekom het dit met my gebeur? Wat is die doel hiermee? Hoekom juis ek?’ Hoewel baie mense hier is vir ons, is ons maar alleen en wanneer die deur toegaan, sit mens soms en huil, maar die ongeluk het ons meer as enigiets laat besef die lewe is kort. Ons probeer alles aanpak en doen want ons is so dankbaar ons kan nog,” sê mev. Duvenhage.
Die gesin was Desember in Sodwana aan die Natalse kus waar Cheverné so lekker in die see geswem het dat sy saans soms pynpille moes drink. “Maar wanneer ons stil geraak het, het sy elke aand gesê: Sjoe, dit was lekker en alles bly die moeite werd.”
Maart 2020 lê soos ‘n groot berg voor, want dan gaan Cheverné vir haar maagoperasie waartydens ‘n maagwand vir haar ‘gebou’ gaan word. “Sy is bang vir die operasie maar dit gaan natuurlik baie dinge vir haar verander. Sy sal daarna dinge kan doen waarna sy baie uitsien, soos om Gold Reef City toe te gaan, en ons sal kan ysskaats sonder om te bekommer dat sy gaan val en seerkry,” sê haar ma.
“Sy is so ‘n sterk kind. Sy leer my elke dag hoe om net sterk te wees in alles wat mens doen. Aan elke liewe mens wat hier lees: Dankie, dankie, dankie. Ons is so dankbaar vir alles en vir al julle liefde en omgee.”



