NewsNews

Kampioen skouhond met vele talente

VANDERBIJLPARK. – Haar stamboeknaam is, That’s Italian Talent de Nobilpazzi, maar sy is beter bekend as Hannah. Die lang naam het sy by geboorte in Italië gekry, maar sy het haar geboorteland verlaat op vier en ‘n half maande en sedertdien reageer sy meestal net op bevele in Afrikaans. Haar vriende mag haar Hannah-Banana noem.

Hannah is ‘n Old English Sheepdog wat op twee jaar en drie maande reeds die titel, “Best in Show” het en 2019 afgesluit het as nommer 58 van Animal Talk se lys van Top 100 honde (alle rasse) in Suid-Afrika.
Vaalweekblad het ‘n draai by die skoukampioen gaan maak. “Sy was vanoggend skoon,” vertel haar eienaar, Mareli Olivier, terwyl Hannah ‘n poot op my skoot plant en my soengroet.
“Sy het egter netnou in die groentetuin gaan speel.”
Hannah blaf instemmend en staan dan stertswaai gereed om afgeneem te word. Mareli sê die hond het almal verras deur so gou kampioenstatus te bereik. “Sy ding mee teen vyfjariges en hierdie ras se pelse is dan eers op hul mooiste.”
Om ‘n uithaler skouhond te wees is by verre nie Hannah se grootste ideaal nie. Dit doen sy sommer net vir die pret. Haar eintlike werk is as terapie hond. Sy is reeds ‘n gunsteling onder Jeugland se inwoners en die kinders van die June Nicholls Skool. Vir hierdie werk gaan sy gereeld vir opleiding en Mareli hoop om haar eendag te kan gebruik om verslaafdes te help. Die Old English Sheepdog is ‘n ras wat in Engeland in die 1800s ontstaan het. Hulle is gebruik om lewende hawe na die mark toe aan te dryf en selfs om waens te trek.

Hannah wag geduldig dat Mareli vir haar ‘n hondebeskuitjie gee. Foto’s: Gerda Bruinette

Die honde se kenmerkende lang hare in skakerings van grys en wit, verberg ‘n tweede pels wat sterk herinner aan skaapwol. In die verlede is die honde dan ook saam met die skape geskeer en is hul wol gebruik om serpe mee te brei.
Mareli sê dis juis hul dubbellaag pels wat maak dat baie mense sku is om die ras aan te hou. Tot so ‘n mate dat opregte Old English Sheepdogs al hoe skaarser word. Mense verkeer onder die wanindruk dat die honde baie warm kry en dat dit moeilik is om hulle te onderhou. Sy sê die honde se buitenste laag hare dien as isolasie teen hitte en is ook waterbestand. “Solank jy die honde gereeld uitborsel, is die pelse nie ekstra werk nie.
“As jy lief is vir ‘n dier, is dit nie moeite nie.
Onthou net dat hierdie ras werkershonde is wat baie oefening nodig het. Hannah is ‘n huishond, maar sy speel elke dag buite met die bal.
“Sy is baie lief vir ons kinders en hulle is nogal stout saam,” sê Mareli. Hannah druk haar kop nog ‘n slag onder my arm in asof sy wil sien of ek nou die regte notas gemaak het. Tevrede met die resultate gaan flop sy op die vloer neer, ‘n massa grys en wit wollerigheid. Sy is gelukkig en tevrede. Hier by die huis is sy een van die familie. Net Hannah-Banana wat in die modder mag speel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button