NewsNews

Die storie van Lereko en Mateo…

VANDERBIJLPARK. - Lereko (5) is serebraal gestrem. Eens op ‘n tyd was hy ‘n normale, aktiewe baba, maar hy het breinvliesontsteking gekry. Hy kan nog nie loop of praat nie, maar hy kan al vinnig kruip.

Sy ogies blink as hy vir Mateo (8) kyk. Hy hou baie van Mateo en probeer hom naboots, iets wat laasgenoemde nie altyd geniet nie. Mateo is outisties en leef meestal in sy eie wêreld. “Lereko voel nie vandag baie lekker nie. Hy is moeg,” sê Nadya Rabe, as sy hom gemaklik maak op die opgemaakte matras saam met die oorgroot teddiebere.
Nadya is van Chalkboard Champs ‘n impak leer-en naskoolsentrum wat sy en Mirna Myburgh van hul huis in Vanderbijlpark bestuur. Albei is onderwyseresse en Nadya is ook ‘n geregistreerde berader.
Sy verstaan kinders met spesiale behoeftes en sy verstaan waardeur gaan hul ouers, want haar jongste seun het outisme. “Daar is steeds baie min hulp vir ouers van kinders met spesiale behoeftes daar buite. ‘n Mens raak moedeloos. Daar is so baie mense wat ons kinders steeds oordeel, verwerp of aanstaar. Hier probeer ons die hele gesin betrek. Dit neem tyd, maar ons probeer nie net die kinders nie, maar ook die ouers se vertroue wen,” verduidelik Nadya.
Mirna knik instemmend en voeg by: “Ons glo dat elke kind veilig hier moet voel en ons gee een tot een aandag. Ek werk al langer as ‘n jaar met Mateo, hy vertrou my en luister as ek vir hom werk gee om te doen, maar hy geniet dit as Nadya grappies maak.”
Mateo het vanjaar met Graad R werk begin. Mirna sê hy het al ongelooflike vordering gemaak. Hy is nie-verbaal, maar sy kan vinnig uit sy liggaamshouding agterkom as hy trots, kwaad of bly raak.
“Ons leer die kinders tegnieke om hul te kalmeer. Elkeen is anders. Sommige hou daarvan hom styf vasgehou te word, ander wil op ‘n bal bons. Mateo verkies dit om te spring,” verduidelik Mirna toe sy die ronde wipmat vir hom gaan haal.
Die mure is van hoek tot kant geplak met prentjies en woorde.
Daar is ook drie foto’s opgeplak van Mateo, Lereko en ‘n nuwe maatjie wat volgende kwartaal begin. Dis belangrik dat Mateo solank aan die nuwe gesiggie gewoond raak. Hy hou van roetine en sukkel met verandering. Elke oggend plak die kinders self die regmerk prentjie langs hul foto’s om te sê hulle is hier. Daarmee saam kom ook ‘n gesiggie oor hoe hul die oggend voel.
Dae van die week word ook elke dag gemerk saam met ‘n prentjie om die weer te beskryf. Die kinders leer deur repetisie.
Stadig maar seker gaan die wyer wêreld vir hul oop. Leef hul nie meer net binne hul eie koppe nie.
“Ek glo Mateo gaan nog praat. Hy moet net besef hy kan. ‘n Mens moenie klein droom nie. Hy sal nog sy matriek kry, al is dit eers op 30,” glimlag Mirna.
Ook sy verstaan kinders met spesiale behoeftes en hul ouers goed. Haar jongste seun het Down Sindroom. “Ek het hom van kleintyd af oral saam met my geneem en ek het hom basiese vaardighede geleer.
In die middae kan hy vir homself koffie en ‘n toebroodjie maak.
“Ons leer nou vir Mateo ook om in en om die huis te help. Dit doen wondere vir sy selfbeeld. Jy moes sy gesiggie gesien het toe hy agterkom hy kan self die gietertjie vol water maak en die blomme natgooi.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button