Hoe groet mens ‘n legende?
VANDERBIJLPARK.- As mens feesvier met ‘n traan in die oog. Dit is wat op Saterdag, 7 Maart by die 21ste SA Country Melody Toekenningsaand gebeur het. Die mense het die musiek en die kuier by Sharky Town geniet, maar dit was vir almal, veral vir die organiseerders en kunstenaars, ‘n moeilike aand.
Hul emosies is nog rou na die afsterwe van Lance James, die Suid-Afrikaanse musiekwêreld se Big Daddy op 2 Maart vanjaar.
Marius de Vos van IFM 102.2 het vroegaand onder luide toejuiging verklaar dat die Countryfees en toekenningsaand van nou af as LJ’s
Country Music Festival bekend sal staan.
Verskeie kunstenaars het deur die loop van die aand opgetree en liedjies aan Lance James opgedra. Die immergewilde Maritza is met ‘n Legendetoekenning vereer en sy het vertel hoe sy Lance leer ken het as 13-jarige.
“Hy was regtig my Daddy,” het sy gesê en toe bygevoeg, “Ek gaan nou baie braaf wees en ons (haar en Lance) se liedjie sing… Toe die eerste note van “Blue eyes crying in the rain” begin, het heelparty gehoorlede se oë begin blink en in die voorste stoele het ‘n gryskopman sy blikkie koeldrank al hoe stywer vasgeklem terwyl hy hard gesluk het.

Kort daarna het Herbie & Tonie ‘n lied, spesiaal geskryf vir Lance James, “We thank you Big Daddy” gesing, voordat ‘n video vertoon is met foto’s uit
die legende se lewe. Terwyl die video vertoon is, het nog een van Lance se ‘musiekkinders’, Manie Jackson, teen die verhoog kom staan. Sy rug na die gehoor, sy oë op die skerm vasgeklem. Skouers geboë. Hy het vroeër die aand gesê hy weet nie hoe hy Vicky sonder Lance James langs hom gaan sing nie. Nou het die oomblik aangebreek…
Manie, een van die Vaal se gewildste sangers, het Lance James op 18-jarige ouderdom leer ken. Vir 22 jaar was Big Daddy ook vir hom daar en het hul vele toere en vertonings saam gedoen. “Die mooiste oomblikke van my lewe was saam met Lance. Vanaand kan ek nie my hoed vir hom afhaal nie, maar ek gaan sý hoed opsit,” het Manie gesê en toe die rooi baadjie aangetrek en die stetson op sy kop gesit wat Lance James self vir hom gegee het.
“Dit is die eerste en laaste keer wat ek hierdie baadjie en hoed gaan dra,” het hy beslis verklaar. Klankman Marius het die knoppies gedruk en Lance se stem het sy ou treffer, Vicky, begin sing. Manie het die mikrofoon opgetel, maar sing kon hy nie sing nie. Die oomblik was te groot. Later het hy wel een van Big Daddy se ander gunstelinge, Oh Lord My God
gesing en met die laaste note na Lance James se foto gedraai en sy hand in ‘n laaste groet vir sy vriend en mentor gelig. Lance James se agent en bestuurder, Mara van der Bergh het namens hom ‘n toekenning vir die beste Country album van die jaar vir sy album, Swan Song, ontvang. “Lance was in die hospitaal toe hy van die toekenning verneem het,” het sy gesê. “Hy was baie bly en dankbaar daarvoor en het regtig gehoop hy sou dit
self in ontvangs kon neem. Hy was baie lief vir julle (sy ondersteuners) en hy sal altyd bly.”
Marius de Vos het dit die beste saamgevat: “Lance was ‘n mens-mens. Niemand sal die legende kan vergeet nie.”



