Vaaldriehoekers word egter net soos die res van die wêreld gemaan om kalm te bly.
Voorsorg en kennis van die virus is van uiterste belang om te verhoed dat die virus verder versprei.
Dr. Richard Friedland, Netcare se hoofbestuurder, het reeds die versekering gegee dat die Netcare-groep, insluitende Netcare-hospitale en Medicross en Netcare 911, verskeie voorsorgmaatreëls getref het om pasiënte, dokters, ander personeel en besoekers te beskerm.
Netcare het reeds in Januarie, met die eerste gevalle van die koronavirus in China, ‘n taakspan saamgestel om gereed te wees om enige gevalle van die Covid-
19 gevalle in Suid-Afrika te behandel. Daar word ook by die onderskeie fasiliteite strenger maatreëls toegepas. Van die belangrikste maatreëls sluit in:
* Om te verseker dat besoekers se hande met saniteermiddels skoongemaak word;
* Besoekers word ondersoek vir tekens van die virus; * Besoektyd is verminder, asook die getal besoekers wat tydens ‘n besoek toegelaat word:
* Daaglikse ondersoeke van personeellede * Om inligting oor Covid-19 aan die publiek beskikbaar te stel Volgens die nuutste syfers is daar wêreldwyd reeds 171 105 gevalle van mense wat die koronavirus het, waarvan 6 526 gesterf en 77 791 herstel het.
Wat is Covid-19?
Covid-19 is een van die onderskeie koronavirusse wat in diere gevind word, waarvan ‘n klein aantal tot siekte onder mense kan lei. Op 9 Januarie het die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) bevestig dat die koronavirus in die stadm Wuhan in die Hubei-provinsie in China aangemeld is. Die meerderheid van die eerste pasiënte daar is geassosieer met die seekosmark. Die oorsprong van die virus is egter steeds nie bekend nie.
Hoe word Covid-19 versprei?
Die virus word oorgedra en versprei deur druppels. As ‘n persoon met die virus dus hoes of nies, word die virus versprei. Mense met ‘n swak immuunstelsel of mense wat reeds siek is, is in groter gevaar omdat hulle gestel meer vatbaar vir die virus is.
Hoe lank voor die simptome wys?
Tussen twee tot tien dae.
Wat is die simptome?
Algemene simptome sluit in koors, gepaardgaande met hoes en moeilike asemhaling. In sommige gevalle was daar byna geen simptone nie, terwyl ander se simptome tot longontsteking, sepsis en organe wat ophou werk het, gelei het.
Behandeling
Antibiotika is nie effektief op sy eie nie. Behandeling wissel van geval tot
geval. Die onderskeie simptome word dus afsonderlik behandel. Daar is steeds nie
‘n teenmiddel nie. Mense wat moontlik die virus kan hê, word gevra om hulself
af te sonder (in kwarantyn te plaas), solank hul toestand van so ‘n aard is dat
hulle nie hospitaalbehandeling benodig nie.
Hoe beskerm jy jou teen die virus?
* Kanselleer en stel vakansies of besoeke na ander lande uit, veral lande waar daar gevalle van die COVID-19 virus geïdentifiseer is
* Was jou hande gereeld met warm water en seep en maak hulle behoorlik met ‘n handdoek droog. Om jou hande met ‘n saniteermiddel wat alkohol
bevat skoon te vryf, word ook aanbeveel
* Moenie onnodig met jou hande aan jou gesig, mond en oë vat nie
* Probeer om direkte aanraking met diere by markte te vermy
* Moenie rou of half gaargemaakte vleis eet nie
* Hoewel gesigmaskers nie noodwendig op sy eie voldoende beskerming teen die virus bied nie, kan dit tog ekstra beskerming verleen
* Hou jou mond en neus bedek met ‘n sneesdoekie as jy nies of hoes, of gebruik dan jou arm in ‘n gebuigde posisie as laaste uitweg.
* Kontak die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) tolvry by 0800 029 999, Maandae tot Vrydae vanaf 08:00 of besoek die webtuiste
www.nicd.ac.za/diseases-a-z-index/covid- 19/ vir die nuutste inligting.
* Besoek die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) se webtuiste www.who.int/emergencies/diseases/novel-coronavirus-2019/situation-reports vir die nuuste inligting. Inligtingsbronne: National Institute for Communicable Diseases (NICD) en World Health Organisation (WHO).



