NewsNews

Vreemde woestynkos floreer in die Vaal

VEREENIGING. - Wou jy nog altyd graag jou eie groente kweek maar het nie “groen vingers” nie? Druk dan net ‘n paar pitte van ‘n woestynkomkommer in die grond en as jy weer sien, het jy ‘n hele tuin vol sappige slaaigroente!

Vir plantkenners en jarelange tuiniers is die ongewone komkommers in Hendrik en Denise Naudé se tuin in Houtkopweg, Vereeniging, waarskynlik niks ongewoon nie, maar stadsjapies sal dalk twee keer dink voordat hulle hul tande in dié vreemde vrug met sy effens bedreigende voorkoms inslaan.
Hulle weet egter nie wat hulle mis nie, want die woestynkomkommer, ook genoem ‘n Kalahari- of wilde komkommer, is heerlik sappig en ‘n aanwins in enige slaai. Dis selfs lekkerder as ‘n gewone komkommer, sê die Naudé’s.
Die komkommers is ovaalvormig, omtrent so groot soos ‘n groterige peer en het ‘n skil wat herinner aan dié van ‘n waatlemoen, maar met effens stekelrige puntjies oor die hele skil.
Volgens Denise (68) het haar man, Hendrik (74), jare gelede ‘n paar pitte van die plant saamgebring en dit in die grond gedruk toe hy van Bloemfontein na Vereeniging verhuis het.
“Dit groei nou so welig dat ons vanjaar al meer as 40 komkommers gepluk het – en daar is maklik nog 60 oor,” sê Denise. Hoewel dit smaaklik is in ‘n slaai, is die komkommers ook ‘n verfrissende peuselhappie op hul eie.
“Hendrik eet dit sommer net so uit die tuin uit. Hy skil dit net en strooi bietjie sout oor,” sê Denise. Aangesien dit ‘n geharde woestynplant is, hoef dit nie eers gepamperlang of natgelei te word nie. Die Naudé’s se indrukwekkende oes het vanjaar slegs op reënwater gefloreer.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button