Die belangrikste reël op die oomblik is natuurlik bly tuis, behalwe as jy dringend jou kosvoorraad moet aanvul, ‘n SASSA toelaag moet gaan trek, medisyne moet bekom of mediese behandeling moet kry. Dan is daar die essensiële werkers wat op hul poste moet wees. Nêrens in enige van die toesprake, media verklarings, nuusberigte of amptelike webtuistes word daar genoem dat mens in hierdie tydperk jou maniere by die huis moet los nie.
Gister moes ek om verskeie redes by ‘n apteek en ‘n supermark ‘n draai gaan maak. By die supermark is daar min mense. Die wat wel daar is, staan gehoorsaam voor die winkel op die aangewese rooi merkers. Die sekuriteitswag maak seker daar is nie baie mense op ‘n slag in die winkel nie. Sommige mense is gemasker. Ander nie. Die meeste knik vriendelik vir mekaar.
Binne die winkel stap ek verby ‘n kasregister ry en hoor die interessante gesprek in Afrikaans met so een smerige Engelse woord tussenin. ‘n Blonde vrou vra baie beleef vir die gryskopvrou agter haar om asseblief die regte afstand te hou. Die ouer vrou, verskuil agter ‘n masker en met dik plastiese handskoene aan, het omtrent met haar trollie op die ander vrou se hakke gestaan. “Jou b***h! Ek het ‘n masker aan,” snou sy die ander vrou toe.
Sjoe! Dit was ongevraagd!
‘n Rukkie later staan ons in ‘n baie lang ry voor ‘n apteek. Die sekuriteitswag is vriendelik, maar streng. Afstand word gehandhaaf. Niemand ontglip sy wakende oog nie. Meeste mense luister, maar daar is hier en daar mense wat hardnekkig wil stry, wat nog nooit van asseblief en dankie gehoor het nie en al wat leef en beef aangluur bo-oor maskers waaraan hul die heeltyd trek.
Ai mense, hierdie tydperk is nie lekker nie, maar ons is almal saam in die ding. ‘n Vriendelike groet, selfs ‘n glimlag of twee oor die regte afstand sal niemand siek maak nie. Wees tog asseblief geduldig en luister na die personeel. Onthou… hulle offer baie op sodat jy jou bloeddruk medikasie kan kry of ‘n brood kan koop.



