Haweloses na Saul Tsotetsi-sportkompleks geneem
VEREENIGING. Ten spyte van die landwye staat van inperking is daar steeds talle haweloses wat nog die strate bewandel en dus duidelik nie ingeperk word soos die res van inwoners nie. Die probleem is veral ooglopend in Vereeniging, waar talle mense nog in die strate rondloop, in bouvallige huise soos die een in Athloneweg skuil …
VEREENIGING. Ten spyte van die landwye staat van inperking is daar steeds talle haweloses wat nog die strate bewandel en dus duidelik nie ingeperk word soos die res van inwoners nie.
Die probleem is veral ooglopend in Vereeniging, waar talle mense nog in die strate rondloop, in bouvallige huise soos die een in Athloneweg skuil en langs die oewers van die Vaalrivier wegkruip waar talle ’n vissermansbestaan maak.
Op die hoek van Ou Johannesburgweg en Ringweg, skuins agter die Vereeniging Kopanong Hospitaal, slaap ’n bekende hawelose man wat nou al vir jare lank onder ’n reklamebord bly, steeds op sy dubbelbed vir een.
Volgens Lebohang Mofokeng, ’n woordvoerder vir die Emfuleni Plaaslike Munsipaliteit se burgemeester, rdl. Gift Moerane, het die munsipaliteit wel ’n plan met die Vaaldriehoek se haweloses tydens die staat van inperking.
Sy sê ‘n taakspan is spesifiek op die been gebring om die probleem te takel.
“Die department van maatskaplike ontwikkeling onder die leierskap van Panyaza Lesufi het alle munisipalteite gevra om gemeenskapsale en sentrums te identifiseer wat gedurende hierdie tydperk hawelose mense kan akkomodeer.
Die uitvoerende burgemeester het tesame met die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit se department van maatskaplike ontwikkeling die Saul Tsotetsi-sportkompleks in Sebokeng as ’n tydelike plek skuiling vir haweloses in die streek geïdentifiseer gedurende die tydperk van inperking,” verduidelik Mofokeng.
Volgens haar is 30 sponsmatrasse en 30 komberse reeds by die skuiling afgelewer.
“Die hoeveelheid sponsmatrasse en komberse sal vermeerder namate meer haweloses geïdentifiseer word en na die skuling gebring word.
Daar is volgens Mofokeng ook sekuriteitspersoneel wat die perseel sal beveilig en maatskaplike werkers berei maaltye voor.
Die Saul Tsotetsi gemeenskapsaal het lopende water, wasakke, toilette, ‘n kombuis en kan volgens Mofokeng ongeveer ‘n 100 mense akkomodeer.
Gesondheidswerkers sal ook toetsing doen.
Talle mense sou Vrydag na die skuiling geneem word.





