Die eerste naweek het hulle in hul daktent geslaap, die tweede in die karavaan en die derde in hul groot Safaritent. Behalwe dat dit bietjie die normale roetine breek, bied dit hul ook die geleentheid om hul ander passie uit te leef… “bird atlasing”.
Dawie, een van Suid-Afrika se top voël atlassers sê: “bird atlasing” behels die tel van voëls op ‘n wetenskaplike manier. Dit word gedryf deur meer as 2000 burgerlike wetenskaplikes of “citizen scientists” wat vrywillig hierdie werk doen as deel van hulle voëlkyk passie.

Vandat die grendelstaat almal op hok gesit het, het die Kleynhanse al 70 verskillende voëlspesies in hul tuin waargeneem. Die meeste daarvan is die gewone tuinvoëls, soos onder andere die Janfrederik, Rooioogtiptol, Gewone Kwikkie, Geelbeklyster en vier duifspesies, drie mossiespesies, en drie vinkspesies.
Op 13 April het hulle vir die eerste keer Kwartelvinkies oor die tuin sien vlieg en daar was ook groot opgewondenheid toe ‘n Feëvlieëvanger (Fairy Flycatcher) sy opwagting na amper 18 jaar gemaak het. Die laaste keer wat ‘n Feëvlieëvanger in hul tuin gesien is was op 22 Junie 2002.
Omdat hulle nou so baie tyd rustig in die tuin spandeer, hoor hulle meer voëls as gewoonlik. Dawie sê “ons hoor ‘n Bokmakierie en ‘n gewone Vleiloerie, wat nogal spesiaal is, maar het hulle nog nie fisies in die tuin gesien nie.”
Die mees uitsonderlike voël wat al in hul tuin was, is die Wespedief (European Honey Buzzard). Die roofvoël het op 8 Maart die tuin besoek. Dis ‘n skaars roofvoël uit die noordelike halfrond wat in die somer (November tot April) hier voorkom. Hy is baie spesiaal omdat hy slegs van wespe, perdebye, bye en hulle larwes leef. Dis ongehoord vir so ‘n groot roofvoël om so ‘n dieet te volg.
Dawie en sy vrou, Sarieta, het al 830 spesies in suider afrika gesien sedert hulle in Oktober 2008 aktief daarmee begin het. Deur die jare het hulle al meer as 3000 atlaskaarte ingedien, wat ongeveer 9000 uur se aktiewe voëlkyk verteenwoordig! Dawie is een van die top 5 atlassers in die land en sê dit het vir hom ‘n leefwyse geword. ‘‘n Mens is deurentyd bewus van voëls rondom jou – by die kantoor, huis, op pad, vakansie. Oral.”
Die Kleynhanse se voëlkyk ekspedisies het hul al dwarsoor Suid-Afrika en na verskeie buurlande geneem, waaronder Lesotho, Botswana, Mosambiek, Namibië en Zimbabwe.

Dawie sê die “holy grail” voël vir enige suider-afrikaanse voëlkyker is die Angolapitta (African Pitta) wat in Zimbabwe en Mosambiek voorkom en nog net enkele kere in Suid-Afrika gesien is. Dis ‘n baie mooi, maar skugter voël wat net van November tot Maart in ons streek is, andersins hou die voëls by dik bosse in die verafgeleë tropiese laaglande. “Ons het al twee ekspedisies gedoen op soek na die Angolapitta.” Die eerste ekspedisie na Mosambiek in 2009 was onsuksesvol. Hulle het die uitsonderlike voël wel in Desember 2012 te siene gekry naby die Manapoele Nasionale Park in Zimbabwe. Die mooie oomblik kon ongelukkig nie op film vasgelê word nie…. “ons is deur wilde olifante gestorm en moes vlug vir ons lewe!”
Indien jy belangstel om ook ‘n voëlatlasser te word, gaan lees gerus meer oor die Southern African Bird Atlas Project (SABAP2) by https://sabap2.birdmap.africa/. Jy kan ook deel word van die Birdlasser Lockdown Challenge. Daar is ‘n gratis toep (app) genaamd Birdlasser wat atlassers gebruik om hulle rekords te “log” en dan maklik op die webwerf te laai. Die uitdaging behels dat voëlkykers al die voëls wat hulle in en vanuit hulle tuine identifiseer, “log” en die data instuur. Teen 15 April was daar reeds 633 spesies regoor die land aangeteken deur die deelnemers. Volgens birdlasser.com duik die Hadeda Ibis die meeste in die tuine op.



