Covid-19 pandemie: ‘Ons is op ’n mespunt’
“Die koronaviruspandemie is ’n gesondheidsoorlog wat tot ’n ekonomiese oorlog gelei het, dus het Suid-Afrika ’n multidimensionele plan nodig om te oorleef.” Prof Danie Meyer, ’n ontwikkelingsekonoom en direkteur van die TRADE-navorsingsfokusarea van die Noordwes-Universiteit (NWU), glo dat drastiese maatreëls in plek gestel moet word om die land deur hierdie moeilike tye te dra.
“Ons kon die verlenging van die staat van inperking tot einde April te wagte gewees het, aangesien die meeste lande tot vandag toe vir ten minste ’n twee maandetydperk in ’n staat van inperking verkeer.
“Dit lyk nou of my scenario 2 (gematigde inperking) die waarskynlikste gaan wees om te realiseer. Dit was nie die beste scenario nie, en ek het voorspel dat dit ’n drastiese styging in werkloosheid, die sluiting van marginale sakeondernemings, en die regering wat sukkel om al sy verpligtinge na te kom, tot gevolg sal hê.”
Prof Meyer sê dat die wêreldwye en Suid-Afrikaanse ekonomieë ’n diep resessie in die gesig staar. “Die pandemie het die wêreldwye ekonomie so te sê tot ’n tydelike stilstand gedwing, met sowel die verbruikersvraag as die produksie-aanbod wat geraak word.”
Hy sê dat die wêreldwye status van die pandemie op 13 April ’n totale getal van 1,9 miljoen gevalle was, wat met ongeveer 72 500 gevalle per dag toeneem (dit is ’n effense afname van die gemiddelde van 76 000 gevalle per dag sedert die begin van April); daar was 116 000 sterftes (toon ook ’n effense afname in daaglikse syfers); en 434 000 persone wat herstel het.
“Die wêreldtendens toon ’n beperkte afname in die toename van nuwe gevalle, maar ’n tweede golf is steeds moontlik, soos daar al met die meeste pandemies ervaar is. Dit is alreeds in China duidelik. In Suid-Afrika toon die huidige data nie enige duidelike en betekenisvolle tendense nie.”
Volgens prof Meyer is Suid-Afrika op ’n mespunt tussen ’n verlangsaming en ’n massiewe uitbreking van nuwe gevalle. “Ek het besluit om my plan van aksie op ’n einddatum van 30 April vir die staat van inperking te baseer. Hoewel ons effektief vir ’n maand in ’n staat van inperking sal wees, vergeleke met die wêreldwye gemiddelde van twee maande, laat ons omgewing van stedelike gebiede met ’n hoë digtheid en groot getalle arm mense nie toe dat daar ’n langer tydperk van inperking kan wees nie.”
Hy sê dat nog meer dae in ’n algehele staat van inperking net tot grootskaalse vlakke van wetteloosheid sal lei. Nuus van die regering is dat die staat van inperking net verslap kan word as daaglikse infeksies beduidend minder as 45 per dag is. Oor die afgelope vier dae tot 13 April het Suid-Afrika gemiddeld 84 nuwe gevalle per dag gehad, dus is ons redelik ver van die standaarde vir die staat van inperking om opgehef te word. ’n Stukkie goeie nuus is dat 96% van alle geïnfekteerde mense wêreldwyd slegs geringe simptome getoon het, terwyl sleg 4% ernstige simptome ontwikkel.”
Prof Meyer sê vir ’n korttermynplan moet die gesondheidsituasie eers oor die volgende paar weke en maande stabiliseer, met die ekonomie wat in fases ontsluit word.
“Dit is kritiek dat besighede waar sosiale distansiëring moontlik is, toegelaat moet word om sake te doen sodat sakeondernemings en werk gered kan word. Skole en universiteite moet eers vir kontakonderrig oopmaak wanneer die virus heeltemal onder beheer is, en ons hoop dat dit teen Julie kan plaasvind.” Hy sê dat alle pogings aangewend moet word om dit te bereik, insluitende die verpligte dra van maskers. Spesifieke streke en stede waar grootskaalse infeksies voorkom, moet geïdentifiseer word.
“Tweedens, om die armes en werkloses te ondersteun, moet daar, benewens die maandelikse maatskaplike toelaebetalings deur SASSA, aan alle mense wat hulle inkomste verloor het onmiddellik vir ’n tydperk van ten minste drie tot vyf maande ’n inkomste uit staatsfondse, soos die Werkloosheidsversekeringsfonds, betaal word.”
Hy sê dat die korttermyn- ekonomiese plan uiteindelik die volgende moet insluit:
- Direkte kontant en nie lenings nie vir die besighede in nood
- Belastingkortings vir individue en besighede
- ’n Verdere verlaging van ten minste 2% in rentekoerse
- Die opheffing van die terugbetaling van lenings vir ten minste drie maande
- ’n Staking van alle reddingsaksies vir ondernemings in staatsbesit
- Die verkryging van finansiële ondersteuning van die Internasionale Monetêre Fonds en die Wêreldbank vir ’n beduidende vermindering van staatskuld, wat groot bedrae geld beskikbaar sal maak om die ekonomie op die lang termyn te ondersteun
Prof Meyer sê dat internasionale reise en toerisme nie voor ten minste die einde van 2020 gaan hervat nie. Internasionale handel wat aan die gang is, sal egter voortgaan, dus is uitvoere moontlik, hoewel die vraag tot aan die einde van die jaar laag gaan bly.
“Hierdie tydelik-stilstaande ekonomiese situasie maak moontlikhede oop om strukturele veranderings te beplan en implementeer: finaliseer ’n ekonomiese ontwikkelingsplan om volhoubare inklusiewe groei te bevorder, herstel die gesondheids- en onderwysstelsel, en verander die maatskaplike welsynsprogram om meer volhoubaar te wees,” sluit prof Meyer af.



