Local newsNewsNews

Wolhaarstories! – Van ‘perm tot ‘gentian violet’-tragedie

Moeg vir al die negatiewe dinge wat aan die gang is. Lees gerus dié skrywe wat in ligte luim, lekker tong-in-die-kies deur Annette Willemse "opgedis" is. Lekker lees en lag 'n slag!

‘n Vrou se hare is haar kroon, maar dit kan baie vinnig ook in haar grootste nagmerrie denkbaar ontaard- en dit kan jy maar vir enige lid van die Evasgeslag vra. Dit is juis hieroor dat ‘n vrou se haarkapper nie net ‘n haarkapper is nie: sy/hy is ‘n engel met ghd haartang en ‘n blinkmooi skêr!

Ek het grootgeword in die jare van tuishaarkappers – jy weet, Salon Priscilla-Jane of Salon Beauty Queenie. Dit was altyd so ‘n double barrel naam en die salon was ingerig in die buitekamer of die motorhuis. Die kamme en skêre het op die spieëlkaste gestaan in sulke glase met geel vloeistof. Oral teen die mure was prente van ‘n jong Karen Botha (in daai trourok), Jani du Plessis, Prinses Diana en die immgewilde Meg Ryan. Daar was hope Huisgenote (waarvan al die blokkiesraaisels ingevul was) en fotoverhaalboekies.

My eerste regte herinnering aan ‘n haarkapper was iewers in Sub B (nou se graad 2) toe my pa vir my en die Juffrou na ‘n manshaarkapper gevat het om ons boksterte af te sny. My ma was in Bloemfontein vir opleiding (sy het mos by die bank gewerk) en hy het gereken die bakleiery elke oggend oor die rekkies en knippies sou hom na waansin dryf. Daardie jaar het ek en die Juffrou met ‘n short back and sides op die klasfoto gepryk. Dit was baie traumaties.

Dan was daar die ‘Perm van 1989’ – ook genoem Pilletjie se Perm. Met ‘n agtjaar ouderdomsverskil tussen ons was Pilletjie nog al die jare my en die Juffrou se stylikoon. Sy was eerste om met grimering te eksperimenteer, eerste om French Connection-klere te dra en helaas ook eerste om ‘n perm te kry.  Sy was in matriek en ons was in standerd 5, en ek onthou dié perm soos gister.  Ons het in die kar gewag – saam met ma, en toe Pilletjie uit die salon stap toe stop die verkeer behoorlik. My ma het – sonder om haar lippe te beweeg, gesis: “Julle sê NIKS. Nie ‘n woord nie!”. Pilletjie het – vinniger as gewoonlik, in die kar gespring en in trane uitgebars. Die reuk van perm lotion het swaar in die lug gehang en Pilletjie se nek was bloedrooi gebrand. Jy sien die soft spiral perm (soos dié van Meg Ryan) was toe meer soos ‘n very tight potskuurder perm. Sy het dit egter met grasie (en baie gebed) oorleef.

Dan was daar my highlights vir die matriekafskeid. Dit was in die dae voor tinting foil en die haarkapper – baie bekwaam, het die plastiekkappie gebruik. Alles het goed gegaan totdat ek met die kappie en ‘n lappie onder die droër gaan sit het. Die reuk van die amoniak het omtrent my korneas geskroei! En toe die oomblik van waarheid: toe daai vrou die kappie afhaal toe beswyk ek amper net daar in die stoel! Die gebleikte slierte het soos die gras onder die hondehok gelyk: dit kry net sonlig as pa grassny. Vir ‘n highlight newby was dit ‘n groot skok.

En wie kan die groot gentian violet-tragedie van 2008 vergeet?. Toe ek by die universiteit begin werk het, het ek besluit om my hare vir ‘n wyle platinumblond te kleur. Die resultaat was ‘n bietjie te geel na my sin en dit is toe dat my ma vir my ‘n botteltjie gentian violet koop. Eerstens: dié skrif op dié botteltjie is so klein dat jy ‘n mikroskoop nodig het om dit te lees, tweedens: nog voor jy die botteltjie behoorlik oop het is alles pers – van jou hande, die wasbak tot jou brilraam en derde: daar is geen waarskuwing op die bottel van presies hoe sterk dié druppeltjies is nie. Einde van ‘n lang storie: daar spog ek vir my eerste week met ‘n lavender blonde!

Die jare het intussen gevlieg en ek (en Pilletjie) het ons haarkapper-ritme vervolmaak. Verby is die dae toe ons met prentjies haarkapper toe gaan. Ons weet nou wat ons van hou, en wat by ons pas. Die dae van wolHAARstories en ander -nagmerries is verby. Vandag lig ek my hoed (ja, daar is nog bad hair-days) vir haarkappers oral oor. Hulle is ast’ware die goeie feë in elke sprokie. En as jy soos een van die lelike stiefsusters voel, dan kom hulle tot jou redding sonder die hulp van muise, pampoene óf ongemaklike (glas)polvye!

Elke wolHAARstorie (behoort) nou ‘n gelukkige einde te hê!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button