NewsNews

Kan honde die koronavirus uitsnuffel?

Wêreldwyd word daar gekyk na maniere om vinniger te kan bepaal of iemand wel positief toets vir die Covid-19 al dan nie. Een van die moontlikhede wat nou ondersoek word in, onder andere, die Verenigde Koninkryk en in die VSA, is om honde op te lei om die virus uit te snuffel.

By die Universiteit van Pennsylvania word agt Labrador retrievers op die oomblik ingespan om te bepaal of hulle enige spesifieke reuk kan optel wat met die virus geassosieer kan word. Sou hulle dit wel kon bepaal sal honde geleer en ingespan kan word om in openbare plekke, soos by hospitale, besighede en lughawens, mense te kan uitruik wat moontlik die virus het, al toon hul nie van die tipiese simptome nie.

Digby is ‘n Labradoodle en ‘n profesionele mediese opsporingshond wat ook nou moontlik ‘n ekstra kursus in Covid-19 opsporing gaan begin. (Foto: mirror.co.uk)

In Suid Afrika help honde die polisie om onder andere vermiste persone op te spoor en dwelms uit te snuffel. In ander lande word honde selfs gebruik om siektes soos malaria uit te wys. Volgens ‘n artikel wat aanlyn gepubliseer is deur die Washington Post op 29 April 2020, het die direkteur van die Working Dog Center by die Penn’s School of Veterinary Medicine, Cynthia M. Otto gesê dat navorsing gevind het dat virusse spesifieke reuke het.

Wat die Covid-19 betref het sy gesê hulle is nie seker of die honde op die reuk van die virus of die virus self, of ‘n kombinasie van die twee sal reageer nie.

In die Verenigde Koninkryk glo wetenskaplikes ook dat opgeleide honde sal kan help om mense the identifiseer wat die koronavirus onder lede het aangesien hul reeds honde het wat kanker, malaria en Parkinson’s kan identifiseer.

Synthia M. Otto, direkteur van Penn Vet’s Working Dog Center in die VSA. (Foto: Sabina Louise Pierce, Penn Vet. Washingtonpost.com)

Volgens ‘n artikel gepubliseer op die World Economic Forum se webtuiste op 27 April 2020 is honde in staat om 750 mense per uur te “snuffel-toets”. Dit kan die huidige druk op laboratoriums, aansienlik verlig.

Die London School of Hygiene and Tropical Medicine (LSHTM), Durham Universiteit en die Medical Detection Dogs organisation neem tans die leiding om te bepaal of en hoe vinnig honde ingespan sal kan word.

Van die opleiding behels om die honde koronavirus pasiënte se gesigsmaskers te gee om te ruik in ‘n poging om vas te stel of die virus wel ‘n unieke reuk afgee wat deur die honde se besonderse reuksintuig opgetel kan word.

Professor James Logan, die hoof van die department vir siektebeheer by LSHTM het volgens die World Economic Forum artikel gesê die navorsing is nog maar in die begin stadium en dat hulle nog nie met sekerheid kan sê of die Covid-10 wel ‘n spesifieke reuk het nie. Hy het gesê dat ander respiratoriese siektes wel die mens se liggaamsreuk verander, so die kanse is goed dat die Covid-19 dit ook doen. Sou dit die geval wees, sal honde in staat wees om dit op tel.

Intussen het die mirror.co.uk die ses honde bekendgestel wat gereed staan om met opleiding in die Verenigde Koninkryk te begin om Covid-19 uit te snuffel. Daar is die drie cocker spaniëls Asher, Jasper en Norman, die twee Labradors Star en Storm en Digby die Labradoodle. Al die honde is reeds opgeleide mediese opsporingshonde. Asher is vyf jaar oud en die een met die meeste ervaring. Tot dusver was sy spesialiteit Parkinsons.

Bronne: www.washingtonpost.com

Mirror.co.uk

www.weforum.org

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button