Die Vaal se lief en leed in 2015
Vaalweekblad van 14 Januarie 2015 berig dat Chanell Meijer, ‘n gewilde Sasolburgse onderwyseres, uitblinker fietsryer en internasionale sportafrigter, ernstige hoofbeserings opgedoen het toe sy op 19 Desember 2014 tydens ‘n fietsoefening deur ‘n afleweringswa in Beethovenstraat, Vanderbijlpark, getref is.

Januarie

Vaalweekblad van 14 Januarie 2015 berig dat Chanell Meijer, ‘n gewilde Sasolburgse onderwyseres, uitblinker fietsryer en internasionale sportafrigter, ernstige hoofbeserings opgedoen het toe sy op 19 Desember 2014 tydens ‘n fietsoefening deur ‘n afleweringswa in Beethovenstraat, Vanderbijlpark, getref is.
Chanell se lewe het aan ‘n draadjie gehang en sy was 80 dae in ‘n koma. Niemand het geweet of sy ooit weer haar bewussyn sou herwin en sou kon praat of loop nie.
In Maart het sy stadig maar s
eker uit die koma begin kom en met haar kenmerkende deursettingsvermoë, onder toesig van arbeidsterapeute, begin oefen.
Hoewel ‘n lang pad na herstel nog voorlê, kan Chanell reeds weer redelik goed sonder hulp stap. Sy sterk nog aan by haar ouers, Pieter en Yvonne Meijer, in Vanderbijlpark. Medici bestempel haar vordering as merkwaardig en niks minder nie as ‘n wonderwerk.


Februarie

In Februarie 2015 is twee Vanderbijlparkse skole in rou gedompel nadat drie afsonderlike tragedies hulle getref het. Zander du Toit, gewilde matriekseun en rugbyspeler van die Hoërskool Driehoek, sterf in ‘n motorfietsbotsing. Mnr. Monray Erasmus, voormalige onderhoofseun van die skool, sterf dieselfde dag in ‘n afsonderlike motorfietsongeluk. Die Hoërskool Transvalia het ook nie verdriet vrygespring nie: ‘n Graad 10-leerling, Wynand Willemse, het ook onverwags weens ‘n frats-verwurging by sy huis gesterf.
* Sasol maak bekend dat 1 500 werknemers reeds skeidingspakkette aanvaar het in die nywerheid se sogenaamde Project Phoenix om die onderneming se arbeidsmag te verklein. Die vakbond Solidariteit maak egter kwaai beswaar en eis dat Sasol deegliker met vakbonde moet onderhandel voordat verdere afleggings plaasvind.
Tot soveel as 5 000 Vaaldriehoekse gesinne is vermoedelik die afgelope drie jaar deur broodwinners se verplasings geraak, maar Vaalweekblad kon tot dusver nog nie amptelike syfers kry oor die aantal gesinne wat die Vaaldriehoek weens dié verskuiwings moes verlaat het nie.
* ‘n Vanderbijlparkse motoris spring die dood vry toe ‘n vragmotor in Delfos-boulevard buite beheer raak en op sy motor omslaan.
Die lorrie van etlike ton het die motor se neus en ‘n gedeelte van die bestuurskajuit platgeval maar die bestuurder gelukkig met ‘n paar milimeter gemis. Nooddienswerkers op die toneel was dit eens dat die motorbestuurder se engel oortyd gewerk het!

Maart

Maart 2015 is weer eens gekenmerk deur jongmense se onverwagse sterftes. Vaalweekblad berig onder andere dat Jaco Visser, oud-hoofseun van die Hoërskool Driehoek, in sy dokter se spreekkamer gesterf het nadat hy van pyne op die bors gekla het.
Vaalweekblad berig ook oor ‘n eerstejaarstudent in Inligtingstegnologie aan die Noordwes-Universiteit se Vaaldriehoekkampus, Loandrie Cilliers, wat gesterf het in ‘n motorongeluk onderweg vanaf haar ouerhuis naby Parys.
Die Hoërskool Transvalia beleef ook weer ‘n hartseertyd toe ‘n bekende en geliefde oudonderwyser, mnr. Attie Venter (54), aan kanker sterf.
Twee weke later was dit die Hoërskool Sasolburg se lot om te rou nadat ‘n geliefde onderwyser, mnr. Theuns Swiegers (60), sy geveg teen kanker verloor het.

April
* Inkopiegangers by Shoprite in Limpopostraat, Vereeniging, was stomgeslaan toe dit blyk dat ‘n karwag wat ure lank roerloos op ‘n drom gesit het, in dié ongewone posisie gesterf het.
Honderde besoekers aan die sentrum het by die liggaam verbygeloop sonder om dit te besef.
* Mev. Liesl (Otto) Boettger, oud-hoofmeisie van die Hoërskool Transvalia, sterf weens komplikasies nadat sy by ‘n skoolprysuitdelling geval en ‘n breinbesering opgedoen het.

* Alex de Koker, ‘n voormalige opleier van veldwagters, word in die Vereenigingse landdroshof tot 25 jaar tronkstraf gevonnis weens die dood van een van sy leerlinge, Raymond Buys (15).
Raymond het in 2011 aan beserings gesterf wat hy glo weens De Koker se weke lange marteling opgedoen het.

Mei
* Een van die grootste en onnodigste tragedies van 2015 het gebeur toe ‘n 27-jarige professionele duiker, Johan Visagie, een middag in Mei 2015 in die reuse-mangat onder Uniestraat, Vereeniging, verdrink het. Johan moes sowat 7 meter onder die pad herstelwerk aan die waterpypleiding gaan doen, nadat die pad in 2014 reeds ingeval het en onbegaanbaar vir voertuie was. Johan was besig om twee ondergrondse rioolpyplyne te koppel toe hy skielik by een van die reuse-pype ingesuig is. Kollegas en reddingswerkers het die rioolstelsel dadelik afgeskakel en Johan probeer red, maar hul pogings was vergeefs. Hy is op die toneel dood verklaar.

* ‘n Jong pa van Sasolburg, mnr. Christo Meyer (30), sterf toe die voertuig waarin hy en sy babadogtertjie, Bella (6 maande), gery het, in ‘n ongeluk op die R57-snelweg betrokke was. Christo het op die toneel beswyk maar Bella het wonderbaarlik oorleef. Sy is in ‘n ernstige toestand per noodhelikopter na die Netcare Clinton Kliniek in Alberton vervoer waar sy goed aangesterk het en uiteindelik ontslaan kon word.
* Die eerste sooi van die superstad, Vaal River City, is op 6 Mei gespit. Die Sedibeng-distriksraad het voorspel dat die nuwe ontwikkeling aan die oewer van die Vaalrivier tussen Vanderbijlpark en Vereeniging, sowat R11 miljard gaan kos en tydens die ontwikkelingsfase werk aan sowat 25 000 mense sal gee. Die ontwikkeling van die gebied vorder nog te stadig maar kenners meen dit kan in die toekoms ‘n groot ekonomiese inspuiting vir die hele Vaaldriehoek beteken.


Junie

* Die Vaaldriehoek was in Junie 2015 landwyd in die nuus weens die veelbesproke “boelievideo” wat deur derduisende Facebook-gebruikers gedeel is. In die video kan gesien word hoe ‘n leerling van Krugerlaan Skool in Vereeniging in die teenwoordigheid van ‘n onderwyser deur ‘n medeleerling gestamp en geslaan word. Die slagoffer is glo deur die boelie “gestraf” omdat hy strydig met die skool se reëls, ‘n tongring laat inskiet het. Die hofsaak, waarin sowel die boelie as die toesighoudende onderwyser aangekla is, is tans hangende nadat die landdros wat die saak sou aanhoor, intussen gesterf het.

* Die Vaaldriehoek se polisiegeledere is in Junie in rou gedompel nadat twee kollegas, luitenant-kolonel Magriet Scheepers en luitenant-kolonel Blien Jonker saam-saam in ‘n motorfietsongeluk naby die Lanseria-lughawe gesterf het. Die paartjie was sowat twee jaar in ‘n verhouding. Magriet se broer, Bokkie Delport, is agt jaar voor haar dood in ‘n soortgelyke padongeluk oorlede.
* Die bekende argitek Leon Botha, wat verskeie groot geboue soos die Sasolburgse biblioteek in die Vaaldriehoek ontwerp het, sterf in Junie op 67-jarige ouderdom. Nog bekendes wat in dié maand gesterf het, is mnr. Louis van Rensburg (79), oudskoolhoof van die Laerskool Risiville, en dr. Isak Steyl, oud-rektor van die Vaaldriehoekse Technikon (nou Vaaldriehoekse Universiteit van Tegnologie) wat op 8 Junie 2015, ‘n dag voor sy 90ste verjaardag, beswyk het.
* Die Vaaldriehoek reageer met woede oor die nuus dat ‘n man van Sharpeville ‘n boerbok so verkrag en gemartel het dat sy aan haar beserings dood is. Die beskuldigde is op klagte van bestialiteit en wreedheid teenoor diere skuldig bevind en tronkstraf opgelê.

Julie
Die naasbestaandes van ‘n vrou, Sharon Glauss (51) wat in De Deur in die Vaaldriehoek gesterf het, kry ‘n geweldige skok toe hulle die kis in Noordwes voor die begrafnis oopmaak en die liggaam van ‘n onbekende man, wyle mnr. Elliot Khoza (39) daarin ontdek. Die liggame is per abuis by die Vaaldriehoekse lykshuis omgeruil. Wyle mev. Glauss se naasbestaandes was so kwaad dat hulle gedreig het om regstappe te doen weens die skok en hartseer wat dit veroorsaak het. Die regte oorledenes is uiteindelik aan die naasbestaandes oorhandig.


Augustus
* Die week van 22 Augustus was ‘n krisisweek vir werknemers van ArcelorMittal in die Vaaldriehoek. ‘n Besluit moes daardie week geneem word oor die moontlike sluiting en aflegging van sowat 1 200 werknemers en kontrakteurs by die Vereeniging-werke. Uiteindelik is besluit dat slegs sekere aanlegte tydelik gesluit sou word en dat minder as 300 werknemers geraak sou word. Teen einde verlede jaar is meeste van dié werknemers reeds na ander werkgeleenthede in die groep oorgeplaas. Die geslote aanlegte sal weer heropen kan word sodra die prys van staal dit weer lewensvatbaar maak.

* Die bekende Sasolburgse prokureur, Jan de Beer, sterf in Augustus, enkele dae nadat die briljante motormeganikus, Chokkie Wessels van Vanderbijlpark, ook onverwags dood is. Albei het in hul slaap gesterf. Nog ‘n bekende in die motorhandel, mnr. Manie Booyens, het in September aan hartversaking gesterf.

September

September is in die Vaaldriehoek gekenmerk deur verskeie brande, wat vererger is deur hewige wind.
Op 20 September is 18 luukse houthuise langs die Vaalrivier by Wonderfontein vernietig toe een vlamgevat en die vuur vinnig na die ander versprei het.
Verskeie voertuie, motorbote, jetski’s en huisraad het ook in die slag gebly, wat die skade op meer as R100 miljoen te staan gebring het.
Ironies genoeg is die naweekhuis van die voortvlugtige misdadiger Radovan Krejcir, een van die enkeles wat die vlamme vrygespring het.
Dit is gedurende November 2015 op ‘n openbare veiling vir R4.2 miljoen verkoop.
* Die Pretorius-gesin van Mooilande het enkele dae later al hul besittings verloor toe ‘n brand hul huis in puin gelê het.
Barmhartige Samaritane uit die Vaaldriehoek het gou ingegryp en die ouerpaar en hul vier kinders finansieel ondersteun.
Ook op Rusticana is die houthuise van minderbevoorregtes tot op die grond afgebrand nadat ‘n vuur buite beheer geraak en versprei het. Weer eens het inwoners van die Vaaldriehoek saamgespan om aan die dakloses kos, klere en verblyf te gee.

Oktober





November
Universiteite is in Oktober en November verlede jaar lamgelê weens sommige studente se #FeesMustFall eise. Soos wat dié foto toon, het die Vaaldriehoek die studenteonrus nie vrygespring nie en die Noordwes-Universiteit (Vaaldriehoek) moes ‘n week gesluit word omdat studente en personeel se veiligheid op kampus nie gewaarborg kon word nie. Die jaar se finale eksamens moes in sommige gevalle ook uitgestel word. Die onrus het bedaar nadat President Jacob Zuma belowe het dat dringende aandag aan studente se landwye versoeke gegee sou word. Dit gaan een van die nuwe jaar se grootste uitdagings wees om gratis, of minstens goedkoper tersiêre opleiding aan alle studente beskikbaar te stel. Foto: Lazarus Dithagiso


Desember











